OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Besigheidskamer het onlangs 'n gemeenskapsprojek van stapel gestuur, onder leiding van Hennie Davel, met die doel om nie net die dorp netjieser te maak nie, maar ook om verskeie instandhoudingstake aan te pak.
Hierdie projek, wat in samewerking met korrektiewe dienste en die Oudtshoorn-munisipaliteit uitgevoer word, maak gebruik van persone wat ingevolge hofbevele gemeenskapsdiens moet verrig.
Volgens Davel kan hierdie persone op 'n sinvolle manier tot die dorp bydra. "Ons het gesien dat daar baie werk is wat die munisipaliteit nie altyd betyds kan hanteer nie, en daarom het ons besluit om 'n verskil te maak deur van beskikbare hulpbronne gebruik te maak," sê Davel.
"Ons het aan korrektiewe dienste voorgestel dat persone wat gemeenskapsdiens moet verrig, geaktiveer word om in verskeie dele van die dorp op te ruim. Verlede week het hulle byvoorbeeld begin met skoonmaakwerk by die brug op pad na George."
Dinsdag 22 April het 'n groep van sowat 20 werkers hand aan die ploeg geslaan en begin om Langenhovenweg op te ruim. Ná die onlangse swaar reëns het sand, modder en klippe oor die pad uitgespoel.
"Voortrekkerweg, Baron van Reede-straat en Van der Rietstraat is van die probleemgebiede waarop ons gaan fokus. Ons wil mettertyd uitbrei en soveel as moontlik van hierdie publieke ruimtes opknap."
Elrico Andrews, superintendent vir strate en stormwater by die Oudtshoorn-munisipaliteit, was Dinsdag ook teenwoordig. Hy verwelkom die projek en beskryf dit as "'n broodnodige en waardevolle bydrae".
Hy meen baie van die agterstallige werk in die dorp kan met sulke samewerkings aangepak word, sonder ekstra druk op die munisipale begroting.
Abri Ferreira, voorsitter van die besigheidskamer, het sy bewondering uitgespreek vir Davel se vinnige optrede.
"Ons het lank gesels oor praktiese oplossings, en Hennie het dit baie vinnig van gesprek na aksie geneem. Dit wys wat moontlik is wanneer ons nie wag vir iemand anders om iets te doen nie, maar self inspring."
Ferreira het egter ook beklemtoon dat die fokus voorlopig slegs op die hoofingangs- en uitgangsroetes van die dorp is. "Ons moet in gedagte hou dat hierdie persone nie betaal word vir hul arbeid nie, hulle is besig om deur gemeenskapsdiens aan 'n vonnis te voldoen.
Ons gebruik hierdie kans om nie net die dorp te verbeter nie, maar ook om rehabilitasie sinvol te maak."
Die burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, het die projek sterk ondersteun en sê dit is ten volle in lyn met wat die minister van korrektiewe dienste, dr. Pieter Groenewald, aanbeveel het. "Ons is baie opgewonde oor hierdie samewerking en dankbaar teenoor almal wat dit moontlik gemaak het.
Dit wys dat rehabilitasie nie net moontlik is nie, maar ook voordelig vir die hele gemeenskap kan wees." Volgens Allers het Groenewald die konsep formeel goedgekeur, waarna Davel met ywer die proses begin dryf het om dit tot uitvoering te bring.
Singabakho Nxumalo, woordvoerder van korrektiewe dienste, het verduidelik dat persone wat gemeenskapsdiens verrig, gereeld vaardigheidsontwikke-lingsprogramme meemaak.
"Hierdie programme help nie net om die individue vir toekomstige werkgeleenthede toe te rus nie, maar versterk ook hul sin van verantwoordelikheid en gemeenskapsverbondenheid.
Wanneer die breër gemeenskap direk voordeel trek uit die werk van hierdie individue, is dit 'n teken dat rehabilitasie werklik suksesvol is."
Hy voeg by dat sommige van die persone reeds hulself onderskei het as hardwerkend, en dat hul betrokkenheid in projekte soos dié hulle trots gee en hoop vir 'n beter toekoms.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’