Update
LADISMITH NUUS - Lede van die Ladismith-polisie en die gemeenskap het onlangs 'n pretstap gehou om geld vir kindersorg in te samel.
Kapt. Henry Edwards en ao. Jannie Cederas is twee beamptes wat 'n liefde het vir kompetisiestap en deur hulle het, Walk for a Dream, 'n werklikheid geword.
Daar is voorsiening gemaak vir twee staproetes, een vir meer ervare stappers asook 'n korter roete vir gesinne en skoolkinders. Die ongeveer 50 km-roete het vanaf Van Wyksdorp begin en het by die kantore van Kindersorg, Ladismith geëindig. Die korter roete, wat in Albertstraat voor die polisiestasie weggespring het en ongeveer 5 km was, het ook hier geëindig.
Die dag is goed ondersteun deur borge soos Avbob, Ladismith Kaas, Sea Harvest, Ladismith Spar, SAPD Sportklub en Korrektiewe Dienste.
Ongeveer 100 mense het aan die pretloop deelgeneem en elkeen wat die roete voltooi het, het 'n medalje gekry. Die inskrywingsgeld het R30 per persoon beloop.
Luit.kol. Pauline Kriel, stasiebevelvoerder, het na afloop van die pretloop, tydens die medalje-oorhandiging elke deelnemer geloof vir hul deelname.
"Hierdie is 'n uitstekende poging van die gemeenskap om hande te vat en 'n stukkende gemeenskap saam te bring."
Bianca Adams, streekverteenwoordiger van kindersorg het haar dank teenoor die organiseerders uitgespreek en verduidelik hoe hierdie gelde hul diensplan sal aanvul.
Edwards het aan deelnemers die versekering gegee dat hierdie, Walk for a Dream-projek 'n jaarlikse instelling gaan word.
Vorige artikel: Pretstap vir kindersorg
Klein en groot het aan die pretloop ten bate van kindersorg deelgeneem. Foto's: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Karoo nuus'