Update
OUDTSHOORN NUUS - Die aanranding van 'n man deur 'n kafee-assistent Vrydagaand, het weereens die kwessie van haweloses in Oudtshoorn op die voorgrond geplaas.
Die man is Vrydagaand omstreeks 19:00 beseer nadat hy na bewering klante van die kafee op die hoek van Baron van Reede- en Kerkstraat gepla het. Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant het die man met 'n bebloede been in die straat gesit.
Lede van die SAPD, verkeer en die munisipaliteit se nooddienste was op die toneel nadat aanvanklike inligting ontvang is dat die man deur 'n motor raakgery is. Volgens 'n polisielid en omstanders is die man bekend in Voortrekkerstraat en slaap hy glo langs die rivier onder 'n brug.
Die winkel behoort aan buitelanders wat van Pakistan kom. Die winkelassistent wat die man geslaan het, het deur middel van 'n tolk gesê die man is die winkel verbied aangesien hy gereeld bedel en klante pla. Volgens hom was die man Vrydagaand weer in die winkel.
Hy het hom meer as eenkeer uit die winkel verwyder, waarna die man kwaad geraak en begin skel het. Dít het na bewering tot die aanranding gelei.
Die assistent beweer hy het die man met 'n rubber sambok verjaag en dat die man die beenbesering opgedoen het toe hy van die sypaadjie afgeval het.
Mense wat glo die voorval gesien het, het egter aan nooddienswerkers gesê die man is met 'n voorwerp geslaan wat soos 'n krieket- of 'n bofbalkolf gelyk het.
Die man het ontken dat hy enigiemand gepla of gevloek het en sê die winkelier het hom sonder rede geslaan.
Daar is aanvanklik gedink die man se been is gebreek en hy is per ambulans hospitaal toe geneem nadat 'n oop wond behandel is en sy been gespalk is. Volgens sersant Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is geen klag by die polisie aangemeld nie.
Nadat die berig op die Oudtshoorn Courant se webblad en Facebook-blad verskyn het, het 'n groot aantal mense kommentaar gelewer.
Een van Oudtshoorn se talle haweloses eet oorskietkos wat hy op die trappe langs die Grobbelaarsrivier opgetel het. Foto: Hannes Visser
Een groep het na die probleem van bedelaars in die dorp verwys terwyl 'n hele aantal ander te velde getrek het teen buitelanders wat besighede in Oudtshoorn oorneem.
Wat duidelik is, is dat die skuiling vir haweloses wat verlede maand in Oudtshoorn deur die minister van maatskaplike ontwikkeling geopen is, en die huidige beleid ten opsigte van haweloses in die dorp onvoldoende is om die probleem op te los.
Lees 'n vorige artikel: Bekende rondloper hospitaal toe
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'