OUDTSHOORN NUUS - Die kwessie oor die skoonmaak van die riete in die Grobbelaarsrivier wat deur die dorp vloei is die laaste paar weke, veral na die onlangse vloede, deur verskeie inwoners geopper.
Oudtshoorn Courant het by CapeNature gaan aanklop oor die tipe riet wat in die rivier groei.
Volgens Luke Folb, mediawoordvoerder van CapeNature, is die meerderheid van die rietspesies in die Grobbelaarsrivier fluitjiesriet (phragmites australis).
"Fluitjiesriet is nie 'n endemiese spesie (nie-indringer) of 'n uitheemse indringerriet nie, maar is 'n kosmopolitiese spesie (kom oral voor)."
Die spesie se groeitempo reageer op voedingstofvlakke van die water, en waar die water hoë voedingstofvlakke het, floreer dit. Die riet kan indringend voorkom, maar sy teenwoordigheid en oorheersing van die stelsel is eintlik om die water skoon te maak deur voedingstowwe te verwyder en uitstekende ekosisteemdienste te verskaf. Die teenwoordigheid van die rietbedding help om erosie, verdamping (waterverlies), asook vloedimpakte te verminder. Sonder die rietbedding in die Grobbelaarsrivier sou daar meer waterverlies, swakker waterkwaliteit en erger oorstromings-impakte wees.
Fluitjiesriet (Phragmites australis).
Foto slegs ter illustrasie.
Toepaslike wetgewing
Folb verduidelik dat die snoei van riete twee toepaslike wetgewings het wat met so 'n aktiwiteit geassosieer word.
"Dit is die Nasionale Omgewings-bestuurswet, asook die Nasionale Waterwet. In die geval van die Grobbelaarsrivier is dit duidelik dat, om dreine en brûe skoon te hou, die Oudtshoorn-munisipaliteit moontlik materiaal uit die waterloop/vleiland sal moet verwyder."
Volgens hom is die Oudtshoorn-munisipaliteit in die proses om 'n Rivierinstand-houdingsbestuursplan vir die Grobbelaars-rivier saam te stel.
"CapeNature het in (2022\2023) gedetailleerde biodiversiteitverwante insette en leiding in die Grobbelaars RMMP verskaf. CapeNature het versoek dat bykomende inligting en studies uitgevoer word om die inhoud van die plan en begrip van die stelsel volledig in te lig. Sedertdien is ons nie versoek om enige verdere insette of leiding te verskaf nie."
Paddas en voëls
Die teenwoordigheid van 'Species of Conservation Concern', soos rooidatalys-spesies, en in dié geval paddas en voëls, moet ondersoek word deur konsultante en relevante aangestelde spesialiste wat die Grobbelaars rivier-instandhoudingsbestuursplan saamstel.
"Die inligting, asook die nasionale biodiversiteitsekosisteem statusklassifikasie, wat 'n bedreigde riviere plantegroeieenheid is, is van kritieke belang in die bepaling van terreinsensitiwiteit.
"Terreinsensitiwiteit bepaal die aksies wat in die rivierinstandhoudingsbestuursplan beplan word. Dit bied heelwat inligting insluitend broeiseisoene van byvoorbeeld paddas en voëls, en waar en hoe die Oudtshoorn-munisipaliteit aan die Grobbelaarsrivier kan werk om infrastruktuur in stand te hou," aldus Folb.
Munisipaliteit reageer
Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit noem dat die munisipaliteit onlangs aansoek gedoen het vir 'n Artikel 30A-noodvoorskrif om die nodige werk in die rivierstelsel te onderneem.
"Hoewel ons mondelinge magtiging van die Wes-Kaapse provinsiale departement ontvang het om rommel uit die rivier te verwyder, word van ons verwag om 'n formele versoek vir 'n noodvoorskrif in te dien, wat gedoen is."
Die munisipaliteit wag tans op formele bevestiging, wat sal bepaal wat word toegelaat of nie tydens die skoonmaak van die rivierstelsel. Volgens Mle het die munisipaliteit reeds 'n noodreaksieplan ontwikkel vir die skoonmaak van die Grobbelaarsrivier wat 'n gekoördineerde en effektiewe benadering sal verseker.
Die publiek se geduld met die proses word gevra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’