Update
OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Sarha Laverlot (51) is in rou gedompel en soek steeds na antwoorde na haar liggaam verlede Donderdag in die veld tussen Oudtshoorn en De Rust gevind is.
Die polisie het vir 10 dae onverpoos na haar gesoek.
Haar liggaam, wat in 'n gevorderde stadium van ontbinding was, is uiteindelik deur 'n plaaswerker gevind.
Margaret Booysen, Laverlot se ma, sê hulle verstaan nog steeds nie waarom sy weggeloop het nie.
"Daar was 'n paar goed in haar persoonlike lewe wat haar die laaste tyd bietjie gevang het, maar as sy moedeloos geraak het, het sy by ons kom kuier of by haar susters.
"Dit is buite haar aard om net skielik die pad te vat," het sy gesê.
Booysen sê sy sou graag wou gaan sien waar haar dogter gesterf het.
"Die polisie het gesê sy het nie lank na sy vermis geraak het gesterf nie. Sy kon dalk al 'n week lank dood gewees het. Ek sal net graag wil sien waar hulle my kind gekry.
"Dat 'n mens die stukkies van die storie wat nog kort bymekaar kan sit."
Sy het Woensdag aan die Oudtshoorn Courant gesê die familie is ook nog nie seker waaraan sy dood is.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê gemene spel word nie op die stadium vermoed nie.
Jacobus Booysen (pa), Margaret Booysen (ma), Thinus Booysen (broer) en Susan Esau (suster). Foto: Liezl van Niekerk
"Voorlopige inligting tot ons beskikking dui daarop dat die vrou aan ontbering oorlede is.
"Die aanduiding is dat die vrou reeds ‘n geruime tyd oorlede is en moontlik kort na haar verdwyning reeds oorlede is. ‘n Geregtelike doodsondersoek word gedoen."
Booysen het gesê hulle kon nog nie met die begrafnisreëlings voortgaan nie, omdat die polisie nog met die nadoodse ondersoek besig is.
Laverlot word oorleef deur haar ma, haar pa, Jacobus, twee broers, twee susters, vier kinders en ses kleinkinders.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'