Update
OUDTSHOORN NUUS - Die liggaam van Sarha Laverlot (51), wat verlede Maandag as vermis aangemeld is, is vanmiddag, Donderdag 23 November, op die Stolsvlakteplaas gevind.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê plaaswerkers het ongeveer 12:00 op haar liggaam afgekom. “Sy is in die veld tussen Oudtshoorn en Dysselsdorp gevind," het hy gesê.
"Haar liggaam was reeds in ‘n stadium van ontbinding, maar daar kan nog nie met sekerheid gesê word hoe lank sy oorlede is of wat die oorsaak van haar dood is nie."
Volgens hom is sy aan haar klere wat sy die dag van haar verdwyning aangehad het uitgeken.
Sherilese Booysen, Sarha Laverlot se dogter, het die week vertel dat die polisie verlede naweek onderklere van Laverlot en die serp wat sy met haar verdwyning aangehad het, gevind het. “Die kledingstukke is by Stolsvlakte in ‘n kloof gekry,” het sy gesê.
Volgens haar het die polisie in die Stolsvlakte-omgewing begin soek ná ‘n persoon wat by die padwerke op die De Rust-pad werk haar in die rigting van Dysselsdorp sien loop het.
“’n Ander vrou wat op Stolsvlakte woon het haar later verby die huisies sien loop, maar hulle het seker gedink my ma gaan dalk vir iemand daar kuier.”
Die Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat Laverlot Maandag 12 November tussen 07:00 en 08:00 in ‘n taxi geklim het en sy is nooit weer daarna gesien nie.
“Sy is glo by Suid-Kaap Kollege afgelaai, maar niemand het haar nog daarna gesien nie,” het haar man, Phillip Laverlot vertel.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'