Update
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-polisie was Maandag 20 Maart slaggereed om enige moontlike ontwrigtende protesaksie vanaf die EFF #NationalShutdown-betogers hok te slaan.
Sowat 30 EFF-betogers het vanaf Bongolethu, in Voortrekkerweg af na die Oudtshoorn-munisipaliteit gestap om 'n memorandum aan Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn te oorhandig.
Oorhandiging van memorandum
Macpherson het gevra dat brig. Susan Crafford van die Oudtshoorn-polisie die memorandum moet ontvang aangesien die memorandum nie teen die munisipaliteit-, raad- of aan hom gerig is nie.
Crafford het die memorandum ontvang met die onderneming om dit aan die betrokke minister te stuur.
Eise in die memorandum wat aan die plaaslike owerhede oorhandig is:
- ]Die EFF eis dat die huidige president van dié land, Cyril Ramaphosa, verwyder word weens die swak politieke leierskapbestuur wat hy uitoefen. Onder sy leierskap kry die land swaar.
- Hoë misdaadsyfer
- Die voortgesette beurtkrag
- Die hoë werkloosheidsyfer
- Swak dienslewering in alle staatsfere
- Die beëindiging van dwelmmisbruik
- 'n Stop tot die skut van taxi's in die besonder hier in Oudtshoorn
Die verklaring lui dat die EFF binne 14 dae van die oorhandiging van die memorandum, antwoorde op al die bogenoemde aangeleenthede wil hê.
Terwyl sommige van die party se lede, onder die wakende oog van die polisie, daarna steeds in Voortrekkerweg vertoef het, het die meerderheid die area verlaat. Qhayiya Mngenela, Oudtshoorn EFF-studenteraadvoorsitter, het na die tyd met die media gesels, en sy ongelukkigheid uitgespreek, omdat die polisie, volgens hom, hulle verhoed het om verder met die protesaksie voor te gaan.
Die geselskap het sowat 'n uur na die oorhandiging van die memorandum, al singend, die area verlaat.
Aanloop tot die EFF-betoging
Die EFF-party het al die vorige week 'n skriftelike kennisgewing by besighede en instansies afgegee wat gewaarsku het dat publieke paaie, besighede en skole (die departement van onderwys het reeds die vorige jaar hierdie dag as 'n skolevakansiedag vasgelê) deur die party gesluit sal word.
Volgens Die Burger van 18 Maart het Allan Winde, Wes-Kaapse premier verlede Vrydag, 17 Maart, daarin geslaag om as 'n party toe te tree tot die metro se hofaansoek teen die EFF.
Regter Mark Sher het glo 'n interdik toegestaan waarin sekere aksies van deelnemers aan die protesaksie hulle maan om binne die wet op te tree.
Die berig lui verder dat hierdie interdik volg nadat Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, 'n aansoek na die hooggeregshof gebring het en Winde gevra het of hy names die provinsie saam met Kaapstad-metro kon aansoek doen.
Vorige artikel: EFF-protesoptog in volle swang
Krop asb die man aan die regterkant uit asook die persoon wat links onder sit.
'n Memorandum wat deur EFF-lede eintlik bedoel was om aan Chris Macpherson oorhandig te word, word deur brig. Susan Crafford ontvang.
Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn staan op die trappe voor die Oudtshoorn-munisipaliteit en word omring deur EFF- en polisielede. Foto's: Sonia
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’