OUDTSHOORN NUUS - Die eerste deel van 'n noodsaaklike breinoperasie op Caleb van Wyk (nege maande) is verlede week afgehandel.
Die operasie word genoodsaak deur tientalle epileptiese aanvalle wat Caleb bykans uurliks kry.
Daar is aanvanklik beplan om die operasie in een dag te voltooi, maar daar is besluit om slegs twee derdes van die operasie te doen en Caleb dan geleentheid te gee om aan te sterk voordat die res van die operasie voltooi word.
Die operasie op Caleb was die doel van dr. André Hattingh van De Rust se onlangse motorfietsrit van 7 000 km. Hy het hiermee bykans R130 000 van die koste van meer as R800 000 ingesamel.
Caleb en sy ouers, Larochelle en Keith van Wyk, is voorverlede week van Nelspruit af Kaapstad toe vir die operasie.
Hattingh het Oudtshoorn Courant verlede week laat weet dat die mediese span wat die operasie uitvoer verlede Maandag besluit het om slegs 'n gedeelte van die operasie uit te voer omdat die proses vir Caleb 'n groot uitdaging was. Hy is die volgende dag van die ventilator afgehaal en kon op sy eie asemhaal.
Caleb se ma het Vrydag in 'n boodskap aan Pediatric Care Africa almal wat die gesin ondersteun en vir hulle bid, bedank en gesê dit gaan goed met Caleb.
Volgens haar funksioneer sy longe goed en het die aanvalle wat hy soms tot 20 keer per uur gekry het, nou minder as 10 per dag is.
Die beste nuus wat sy verlede week met Pediatric Care en ondersteuners gedeel het, was dat een van die dreineringsbuise in Caleb se brein verwyder is en die volgende een waarskynlik hierdie week verwyder sal word.
Na verwagting sal die volgende deel van die operasie binne die volgende twee weke uitgevoer word.
"Die dokters is baie tevrede met Caleb se reaksie en hoe sy liggaam die operasie hanteer het. Ons het nog 'n lang pad om te gaan voordat ons huis toe kan gaan, maar ons vertrou op God om die dokters te lei sodat ons na die einde van April met Caleb kan huis toe gaan. As ma kan ek net vir almal dankie sê vir al die gebede en liefde," het sy in haar boodskap gesê.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’