OUDTSHOORN NUUS - Na drie weke en 7 140 km op sy Harley Davidson, het dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa, Sondag 1 Maart na De Rust teruggekeer.
Hy het die rit drie weke gelede onderneem ten bate van Caleb van Wyk (9 maande) van Nelspruit wat 'n dringende breinoperasie moet ondergaan.
Hattingh se mikpunt was om R100 000 met die rit in te samel, maar hy het Sondag met sy terugkeer bevestig dat R130 000 bewillig is.
Hy het die rit deur reën en wind en oor slegte paaie alleen aangedurf, maar is hier en daar deur motorfietse op dorpe verwelkom en vir kort afstande vergesel.
Daar was drie massaritte onderskeidelik in Nelspruit, Johannesburg en Pretoria waaraan ongeveer 400 mense deelgeneem het. Die grootste massarit van bykans 190 deelnemers was in Nelspruit, die tuisdorp van Caleb.
'n Groepie motorfietsryers van Oudtshoorn en De Rust, het Sondagoggend in Hartenbos vir Hattingh gewag en die laaste 110 km saam met hom De Rust toe gery, waar hy deur inwoners verwelkom is.
Op die vraag wat die hoogtepunte van sy rit was, het hy gesê: "My hoogtepunt was om vir Caleb in persoon te ontmoet en hom aan die biker-gemeenskap voor te stel. Die ondersteuning van mense landwyd was absoluut awesome en die feit dat ons R130 000 kon kry spreek van mense se goedheid in ons mooi land."
En, wat was sy grootste uitdaging? "Die paaie in Mpumalanga en Limpopo was in party areas baie sleg gewees, en ek het klomp keer natgereën, sommer die heel eerste dag al en ook die heel laaste dag."
Caleb se ma, Larochelle, het die volgende boodskap op Pediatric Care Africa se Facebook-blad gelaat: "Dear Dr André, I would like to thank you for what you did for Caleb's Journey to healing. Meeting you in Nelspruit with Caleb and watching your travels across many places, caring for so many children along the way to raise awareness and funds for Caleb. I will never ever be able to thank you enough. You are the reason that Caleb met so many people, touched so many hearts and for that I will be forever grateful. One day he will have his own Harley and who knows where life will take him, but one thing I know for sure, you are part of his story forever."
Binnekort is Doc André weer op 'n donkiekar om soos met verlede jaar se donkiekarrit van 500 km, geld in te samel vir nog 'n kind wat dringende mediese sorg benodig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’