DYSSELSDORP NUUS - Die departement van arbeid het op Dinsdag 15 Julie 'n kennisgewing aan die Dysselsdorp-polisie uitgereik waarin aangedui is dat geen werksaamhede vanuit die hoofgebou mag plaasvind nie. Die gebou is as struktureel onveilig verklaar.
Die Dysselsdorp-polisiestasie, wat teen 'n koste van R44 miljoen gebou is, is amptelik in Maart 2017 geopen. Reeds in Junie daardie jaar moes dele van die gebou egter gesluit word weens strukturele probleme. Personeel moes destyds na alternatiewe ruimtes op dieselfde terrein verskuif word.
Oudtshoorn Courant het sedertdien verskeie berigte oor die voortgesette verval van die gebou gepubliseer.
In 2022 het die departement van infrastruktuur, deur woordvoerder Thami Mchunu, bevestig dat hulle verantwoordelik is vir die herstel en opgradering van staatsgeboue.
Krake in die mure van die Dysselsdorp-polisiestasie.
"Die departement van openbare werke en infrastruktuur is sedert 2017 bewus van die defekte aan die gebou. Daar is besluit om die oorspronklike kontrakteur te herroep en 'n nuwe kontrak op te stel. Departementele prosesse is egter weens die Covid-19-pandemie vertraag," het hy destyds gesê.
Volgens betroubare bronne het krake in die mure sedertdien vererger, met sommige so wyd dat 'n mens daardeur kan sien.
Kurt Nefdt, woordvoerder van Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, het bevestig dat die departement van arbeid 'n tydperk van 60 dae gegee het om aandag aan die probleem te gee.
"'n Span van die SAPD se provinsiale voorsieningsketting-bestuur is onderweg na Dysselsdorp om die situasie te evalueer en met die departement van arbeid te onderhandel," het Nefdt gesê.
"Dienslewering aan die publiek sal egter nie geraak word nie, aangesien die kliëntediensgedeelte van die stasie in 'n ander gebou op dieselfde terrein gehuisves is - 'n gebou wat nie onveilig verklaar is nie."
Verdagtes wat in hegtenis geneem word, word tans vir aanhouding na De Rust-polisiestasie geneem.
Nefdt het verder bygevoeg dat die span wat gestuur is, 'n aksieplan sal fasiliteer vir die pad vorentoe.
"Minister Marais sal ook in gesprek tree met Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, en hom aanmoedig om hierdie saak dringend te prioritiseer."
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gaan dienslewering aan die publiek steeds voort soos normaal.
Die departement van arbeid het nie op navrae gereageer nie.
Lees die vorige berigte hier:
- Polisiestasie nie gou herstel
- Dysselsdorp-polisiestasie glo onveilig verklaar
- Polisie-hulpbronne skiet ver te kort
- Nuwe polisiestasie van R44 miljoen onveilig
- Polisiestasie van R44 miljoen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’