DYSSELSDORP NUUS - Die Dysselsdorp-polisiestasie is na bewering onveilig verklaar en polisiebeamptes moes hul kantore na 'n "beknopte, onvoldoende werkstasie skuif".
Dit is volgens 'n verklaring van die DA se kiesafdelingshoof in Oudtshoorn, Okkie Terblanche, wat onlangs 'n besoek aan dié stasies, in De Rust en Dysselsdorp, afgelê het.
Terblanche dien ook as lid van die portefeuljekomitee oor polisie en het hom daar toe verbind om sy bevindinge aan die komitee voor te lê.
Okkie Terblanche tydens sy besoek aan die Dysseldorp-polisiestasie.
"Dit is uiters kommerwekkend om te sien dat al die dorpe met dieselfde probleme by die stasies sit. Almal het 'n tekort aan hulpbronne en die geboue kort aandag," het Terblanche in die verklaring gesê.
Hy het vroeër vanjaar ook 'n besoek aan die Oudtshoorn-polisiestasie afgelê.
Volgens hom is daar ook 'n reusetekort aan personeel by die Dysselsdorp-polisiestasie.
"Ten tyde van die besoek het ek gevind dat daar 'n 14,81% tekort aan sigbare polisiëring is, daar is geen visuele polisiëringsbevelvoerder nie en daar is 'n 25% tekort aan ondersoekbeamptes. Die wat daar is het ongeveer 80 sake per beampte wat hulle moet oplos."
Volgens hom was die skokkendste bevinding egter die toestand van die polisiestasie self.
"’n Tekort aan personeel en ’n vervalle werkspasie is nie bevorderlik vir die bekamping van misdaad in Dysselsdorp nie. Ons polisiebeamptes kan nie onder hierdie omstandighede werk nie. Ons sal geen vordering in hierdie dorp sien as polisiëring nie uitgesorteer word nie. Misdaad bedreig nie net die veiligheid van ons mense nie, maar dit bedreig ook plaaslike ekonomie en smoor werkskepping. Wanneer misdaad hoogty vier, sal nuwe besighede nie na ons dorpe kom nie, so broodnodige werk sal nie geskep word nie."
Oudtshoorn Courant het 'n navraag oor die toestand van die gebou aan die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, gestuur.
Okkie Terblanche tydens sy besoek aan die De Rust-polisiestasie. Foto's: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'