Update
OUDTSHOORN NUUS - Drie Malawiërs wat daarvan aangekla word dat hulle op 25 Oktober 2021 die eienaars van die Indraf kafee in St. Saviourstraat in Oudtshoorn met vuurwapens gedreig en beroof het, het verlede week vlugtig in die Oudtshoorn-streekhof verskyn.
Watson Mtuwa (36), Ali Coshtok (32) en Mase Mohammed (25) van Durban staan tereg op drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede.
Hulle het glo vir Imam Hussain van R10 000 kontant, sigarette, sjokolade, koeldrank en twee selfone beroof en vir Moosa Daud van 'n selfoon en gedreig om hulle te skiet.
Hulle is nog dieselfde dag van die voorval deur die polisie in hegtenis geneem.
Die saak is op versoek van hul regshulpprokureur, Wenzel Botha, deur streeklanddros Sylvia Mandla tot 13 April uitgestel omdat videomateriaal van die voorval nog nie ontvang is nie.
Die verdagtes bly in aanhouding.
Vorige artikel: Gewapende rowers binne ure vas
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'