OUDTSHOORN NUUS - Tienerswangerskap is wêreldwyd 'n groot bekommernis en het verreikende gevolge vir jong moeders, hul gesinne en die samelewing in die algemeen.
Tienerswangerskap kan tot verskeie uitdagings lei, insluitend onderbroke onderwys, beperkte loopbaangeleenthede en gesondheidsrisiko's vir beide moeder en kind.
Volgens Marisa Lindeque en Wilma Espach, maatskaplike werkers van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) bewys die Wêreldgesondheidsorganisasie dat ongeveer 21 miljoen swangerskappe jaarliks onder adolessente tussen die ouderdomme van 15 en 19 jaar in lae- en middel inkomste lande plaas.
Ongeveer die helfte van dié swangerskappe is onbeplan. Hierdie statistieke beklemtoon die dringende behoefte aan effektiewe voorkomingstrategieë.
Lindeque en Espach is dit eens dat ouers 'n deurslaggewende rol speel om kinders in hul tienerjare die nodige leiding en ondersteuning te bied om ingeligte besluite oor hul seksuele gesondheid te neem.
"Meeste kinders dui aan dat hul ouers die grootste invloed op hul seksuele keuses het.
Navorsing toon dat tieners wat gereeld oop gesprekke rakende seksualiteit met hul ouers het, langer wag voordat hulle seksueel aktief raak en meer geneig is om voorbehoeding te gebruik wanneer hul wel seksueel aktief raak."
Die belangrike rol van ouers
Ouers is dikwels die eerste verde-digingslinie in die voorkoming van tienerswangerskap.
Hier is 'n paar sleutel wyses waarop ouers 'n verskil kan maak:
- Oop kommunikasie
Begin vroeg gesprekke oor seks, verhoudings asook die gevolge van tienerswangerskap. Wees eerlik en oop, en skep 'n veilige ruimte vir jou tiener om vrae te vra en hul bekommernisse uit te spreek.
- Opvoeding
Verseker dat jou tiener toegang het tot akkurate inligting oor seksuele gesondheid, voorbehoeding, en die risiko's verbonde aan onbeskermde seks. Skole- en gemeenskapsprogramme kan waardevolle hulpbronne wees.
- Stel duidelike verwagtings
Ouers se opinie is vir hul kinders baie belangrik. Deel dus jou waardes en oortuigings met betrekking tot seks met jou kind. Moedig jou tiener aan om oor hul toekomsplanne te dink en hoe 'n onbeplande swangerskap dit kan beïnvloed.
- Ondersteuning en leiding
Wees betrokke in jou tiener se lewe. Ken hul vriende, aktiwiteite en weet waar hulle is. Verskaf leiding oor gesonde besluitneming en die konstruktiewe hantering van groepsdruk.
- Toegang tot voorbehoedmiddels
Verseker dat jou tiener weet waar en hoe om voorbehoedmiddels te kry as hulle kies om seksueel aktief te wees. Beklemtoon die belangrikheid van beskerming om beide swangerskap en seksueel oordraagbare siektes te voorkom.
- Bevorder gesonde verhoudings
Leer jou tiener oor die belangrikheid van respek, toestemming en gesonde verhoudings. Moedig hulle aan om seksuele aktiwiteit uit te stel totdat hulle emosioneel en fisies gereed is. Maak seker dat hul weet dat om seks te hê nooit die prys mag wees wat hulle vir 'n verhouding moet betaal nie.
- Seksuele aktiwiteite met minderjariges is teen die wet
Waarsku tieners dat deur by seksuele aktiwiteit betrokke te raak, hul risiko om of slagoffers of oortreders in sake van seksuele misbruik te raak, verhoog. Sorg dat jy en jou kind weet wat die grense hier is. Om aan iemand se privaat dele te vat of enige ander daad van seksuele aard met 'n persoon te pleeg sonder toestemming is 'n oortreding en kan by die polisie aangemeld word. Kinders moet ook daarvan bewus wees dat 'n persoon eers mag toestem tot 'n seksuele verhouding op die ouderdom van 16. Indien 'n kind bo die ouderdom van 16 is en met iemand in seksuele verhouding is wat twee jaar of meer jonger is as die leerder is dit ook 'n kriminele oortreding en kan by polisie aangemeld word.
- Ouer en kind-verhouding is belangrik
Navorsing bewys dat kinders wat voel dat hul 'n goeie verhouding met ten minste een ouer het, minder geneig is om risiko's (soos onbeskermde seks) te neem.
"Ouer, jou tiener hunker na jou aandag. Sit neer jou foon en spandeer kwaliteittyd met jou kind. Eet saam maaltye, deel belangstellings en stokperdjies, ondersteun hul skool, sport en kulturele aktiwiteite en wees teenwoordig tydens gesprekke met hulle. 'n Goeie verhouding lê die grondslag vir alle toekomstige kommunikasie."
- Gemeenskapsbetrokkenheid
Gemeenskappe kan ook 'n belangrike rol speel in die voorkoming van tiener-swangerskap. Skole, gesondheidsorg-verskaffers en plaaslike organisasies moet saamwerk om omvattende seksuele opvoeding en ondersteuningsdienste vir tieners en hul gesinne te bied. Programme wat fokus op die bemagtiging van jong mense, soos loopbaanvoorligting en buitemuurse aktiwiteite, kan ook help om die risiko van tienerswangerskap te verminder.
"Die voorkoming van tienerswangerskap vereis 'n gesamentlike poging van ouers, gemeenskappe en beleidmakers. Deur oop kommunikasie te bevorder, inligting te verskaf en gesonde keuses te ondersteun, kan ouers hul tieners help om adolessensie veilig en suksesvol te deurloop. Saam kan ons 'n toekoms skep waar elke jong persoon die geleentheid het om te floreer."
- Klinieke
Die volgende klinieke het jeugafdelings waar opgeleide personeel seksuele voorligting aan kinders kan verskaf: Oudtshoorn-kliniek, Bridgton-kliniek, Calitzdorp-kliniek, Bongolethu-kliniek, Dysselsdorp-kliniek en De Rust-kliniek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’