Landbouers en werkers van die Klein-Karoo het goeie resultate behaal tydens die 2026 Wes-Kaapse Prestige Agri Awards, wat Saterdagaand, 7 November, tydens 'n glansgeleentheid by Eureka Landgoed in Durbanville aangebied is.
Die Klein-Karoo het twee derde plekke ingepalm, en verskeie plaaslike finaliste is vir hul bydrae tot die landbousektor erken.
Klein-Karoo se finaliste
Brendon Booysen van Welbeplan, wat deel van die Saag Jonker-groep is, het 'n derde plek in die juniorbestuurkategorie behaal.
Christopherus Pieterse van De Krans het eweneens 'n derde plek in die landbouverwerkingskategorie ingepalm.
Die ander Klein-Karoo-finaliste:
• Graham van Wyngaard van Buffelskloof (drywer)
• Donovan Windvogel van Kumquat (algemene werker)
• Ivan Blignaut van Buffelskloof (besproeiingspesialis)
• Derick Kamfer van De Rustica (tegniese operateur)
• Leonie Coetzee van Matjiesrivier (voor-vrou)
• Sarah Grabie van De Krans (middel-bestuur) en Raschaan Ewerts van Withoekboerdery (beste potensiaal)
• Nicole Jansen van Matjiesrivier is ook as finalis in die sosiale ontwikkelingskategorie aangewys.
Die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, het die wenners gelukgewens en die belangrike rol van landbouwerkers in die provinsie se sukses beklemtoon.
"Ons landbouwerkers is die ruggraat van 'n sektor wat werksgeleenthede skep, landelike ekonomieë versterk en ekonomiese groei bevorder.
"Hulle is die mense agter elke oes, elke produk wat ons uitvoer en elke maaltyd wat uiteindelik op ons tafels beland," het hy gesê.
"Die toekennings plaas die kollig op die mense wie se harde werk en toewyding 'n onmisbare bydrae tot die landboubedryf en die plaaslike ekonomie lewer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’