OUDTSHOORN NUUS - Die dood van Clifton Karelse (25) het opnuut die kwessie rakende padveiligheid van fietsryers aangeroer.
Karelse het op 10 Oktober met sy fiets in Zebraweg gery toe hy deur 'n motor raakgery is. Hy het die volgende dag aan sy beserings beswyk.
Derek Oldjohn, Karelse se aanneempa, vertel dat hy 'n lid is van 'n organisasie in Kaapstad, die Invincibles wat Dinsdag na Oudtshoorn gekom het om 'n projek hier van stapel te stuur ter herdenking aan Karelse.
"Sy dood was vir my 'n massiewe skok en uiters tragies. Ek en die span het gesels en ons het besluit om hom te eer, wil ons graag 'n projek in Oudtshoorn begin.
Een van die mikpunte sal wees om kinders in te lig oor padveiligheid wanneer hulle fietsry. Die Invincibles werk in gemeenskappe om kinders uit bendes en bendegeweld te hou en ons probeer ook om hul van dwelms en die euwels van die lewe weg te hou. Ons wil iets soortgelyk hier doen," verduidelik hy.
Oldjohn sê hy en sy span het 10 fietse saamgebring wat hulle vir kinders wil gee.
"Dit is nie nuwe fietse nie, en van die fietse het werk aan, maar dit vorm alles deel van die program. Die kinders gaan basiese takies doen om die fietse te kan verdien. Ons werk saam met die Bridgton Cycling Association en ook verskillende gemeenskapsleiers om hierdie projek volhoubaar te kan maak. Ons wil hê jeugdiges moet besef dat hul nie in armoede hoef vasgevang te sit nie en met 'n fiets kan hul baie meer beweegbaar wees en dit selfs gebruik as vervoermiddel werk toe en terug," verduidelik hy.
Hy is ook van mening dat fietsry as sport ook 'n positiewe stap is omdat dit nie net fiksheid aanmoedig nie, maar oor 'n gesonde roetine aanleer en verantwoordbaarheid kweek.
Invincibles
In gesprek met Oldjohn verduidelik hy dat die Invincibles 'n organisasie is wat in Kaapstad gebaseer is. "Die naam verwys daarna dat ons letterlik deur die meule gegaan het weens slegte besluite. Ons sien onsself as agente van verandering."
Die organisasie bestaan tans uit 35 gerehabiliteerde veroordeeldes wat 'n swaar pad gestap het.
"Meeste van ons is al reeds 10 jaar misdaadvry. Ons het 'n hele paar entrepreneurs en hoogs bekwame ambagsmanne onder ons en glo ons dat werk waardigheid skep. Ons doel is om te motiveer en op te voed. Ons staan op vir mishandelde vroue en kinders en bied ondersteuning aan hulle."
"Die rede waarom ons besluit het om uit te reik na die gemeenskap van Bridgton is omdat ons Cliffie se lewe wil eer. Ons wil die jeug aanmoedig om die nalatenskap van die jongman voort te sit deur aan hulle fietse te voorsien. Ons het eendersdenkende leiers in die gemeenskap betrek om die noodsaaklikheid van fietsveiligheid te beklemtoon en aan te spreek. Ons hoofdoelwit is om die jeug te lei om wetsgehoorsame burgers te word, asook om ander in nood op te hef."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’