Update
MOSSELBAAI NUUS - Die I surrender - Christengroep het verlede Vrydag na 'n optog deur Oudtshoorn se strate 'n memorandum aan burgemeester Colan Sylvester, oorhandig.
Inwoners met wit vlae en perderuiters het aan dié optog deelgeneem. Twee donkies in wit geklee was ook deel van die gevolg.
Die koördineerder van die groep, Ranger Grebe, het tydens die oorhandiging van die memorandum gesê dat die tyd nou is om die woord van die Almagtige in Oudtshoorn te verwelkom.
Grebe het gesê dat die munisipaliteit 'n groot rol speel om die groep se visie 'n werklikheid te maak omdat dié instelling die hekwagter van die dorp se infrastruktuur is. Hy het onder andere versoek dat die Oudtshoorn-munisipaliteit die groep moet bystaan om 'n kruis by Spekkop op te rig wat simboliseer dat Oudtshoorn aan Jesus behoort.
In samewerking met kerkleiers op Oudtshoorn beoog dié groep ook om die volgende doelwitte van stapel te stuur: Uitreiking na plaasmense in Oudtshoorn-streek, gereelde bidsessies met plaaslike raadslede sowel as besighede en skoolhoofde, uitreikprogramme regdeur die Klein-Karoo en die identifisering van probleemareas in die dorp.
Volgens Grebe dra gebed, wat gepaardgaan met aksie, krag en glo die groep dat Oudtshoorn se sosiale en ekonomiese probleme daardeur opgelos kan word.
Artikel: Christengroep wil kruis oprig in Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'