OUDTSHOORN NUUS - Cango Wildlife het onlangs nog 'n finansiële hupstoot ontvang toe Chery Klein Karoo 'n skenking van R10 000 aan die fasiliteit se vloedhulpfonds gemaak het.
Die Oudtshoorn-streek is op 6 Mei deur die ergste oorstromings sedert 1996 getref.
Cango Wildlife, wat vanjaar sy 40ste bestaansjaar vier en die tuiste van meer as 300 diere en 160 personeellede is, is direk deur die vloede geraak.
Hoewel al die diere ongedeerd is en geen lewensverlies aangemeld is nie, het die fasiliteit omvangryke skade opgedoen en moes dit tydelik sy deure sluit.
Bestuur het vroeër aangedui dat die fasiliteit nie sonder verdere ondersteuning sal kan heropen nie.
Sedertdien is verskeie skenkings ontvang om die gewilde toeriste-aantreklikheid te help herstel en weer ten volle operasioneel te maak.
Volgens EP du Plessis, eienaar van Chery Klein Karoo, is die skenking deel van die onderneming se verbintenis tot die plaaslike gemeenskap.
"Ons is 'n nuwe onderneming in Oudtshoorn en doen sedert Augustus 2025 sake in die dorp. Ons is 'n familiebesigheid wat verbonde is aan Du Plessis Motors Volkswagen, wat reeds 70 jaar deel van Oudtshoorn en sy gemeenskap is. Ons glo in die plaaslike mark en sy mense, en deel in die vreugdes en uitdagings van die omgewing. Ná die onlangse vloede en die verliese wat daarmee gepaard gegaan het, is dit vir ons 'n voorreg om 'n bydrae te kan lewer. Dit vorm deel van ons maatskaplike verantwoordelikheid."
"Dit is die krag van plaaslike ondersteuning, en ons bedank ons bestaande en toekomstige kliënte vir hul ondersteuning, wat dit moontlik maak," het hy gesê.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’