OUDTSHOORN NUUS - Hy was Oudtshoorn se eie William Smith.
So is Charles Wentley (68), jare lange Wiskunde-onnie aan die Hoërskool Môrester in een van die huldeblyke beskryf wat tydens sy troos- en begrafnis-diens in die Oudtshoorn Volkskerk gelewer is.
Vaughan Muller, jare lange vriend van Wentley, het sy vriend van oor die 40 jaar met Smith vergelyk, die man van Knysna wat vir baie jare 'n Wiskunde-program op TV aangebied het.
Volgens Muller het Wentley egter 'n ander aanslag gehad van hoe hy die vak aangebied het.
"Charlo called a spade a spade, en kragwoorde was deel van sy woordeskat. Hy was 'n reguit mens en baie van sy leerders het groot professionele beroepe bekom. Hy het 'n unieke persoonlikheid gehad. Hy was een van 'n soort," het Muller gesê.
Jonathan Wicomb, het in sy huldeblyk namens wyk 13 van die Volkskerk gesê Wentley was 'n man wat sy verpligtinge teenoor die kerk nagekom het. Hy was 'n plesier in ons wyksvergaderings."
'n Oudkollega, Hazel Jonker, het Wentley beskryf as iemand wat respek vir almal gehad het. As onderwyser was hy 'n man met ongelooflike werksvermoë wat altyd net wou help.
Hy het 'n aansteeklike glimlag gehad en sy toewyding was ongelooflik.
Nog 'n oudkollega en vriend van Roy Smith, het in sy huldeblyk gesê Wentley was 'n baie streng onderwyser, maar iemand met 'n sagte hart. Sy liefde vir die onderwys en veral wiskunde was iets besonders.
Ds. Ebraimilde Booysen het in sy troosboodskap na aanleiding van
2 Korintiërs 7 gesê ons almal is maar kleipotte wat breek en gebore om almal te sterwe. "Die familie sit vandag langs die tafel van pyn, maar die Here is in alle omstandighede saam met ons."
Wentley laat sy vrou, Mercia, twee kinders, Peter en Carlene, en vier kleinkinders agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’