Update
OUDTSHOORN NUUS - Van die ikoniese antieke winkel, Pasella, in Adderleystraat, is daar net as en 'n murasie oor. Dit nadat die winkel Maandagaand onverklaarbaar aan die brand geraak het.
Volgens Quintin Boshoff, die eienaar Elna Boshoff se seun, het die winkel vir meer as 20 jaar aan sy ouers behoort.
"Die winkel het tydens Covid toegemaak en daarna het my ma na my pa, wat verlede jaar oorlede is omgesien. Sy wou graag weer die winkel oopmaak, maar ons was bietjie versigtig vir haar veiligheid in die winkel."
Al die voorraad was steeds in die winkel, net soos sy dit gelos het. Alles is in die brand vernietig.
Met die aankoms van Oudtshoorn Courant op die toneel Maandagaand was brandbestryders reeds besig om die brand met mag en mening te bestry. Die brandweerspan is eers 03:30 Dinsdagoggend weg nadat hulle sekergemaak het dat alles geblus is.
Boshoff het Maandagaand gesê dat hulle onlangs 'n inbraak by die winkel gehad het, maar dat daar slegs een waardevolle item uit die winkel gesteel is.
Bure het ook Maandagaand aan die koerant gesê dat hulle iets binne die winkel gehoor het en glas hoor breek het, maar hulle kan nie met sekerheid sê of dit toe al gebrand het en of iemand binne die winkel was nie. Volgens een van die bure, wat anoniem wou bly, is dwelmverslaafdes in die area 'n groot probleem.
"Hier is baie tikkoppe in die straat wat wil moeilikheid maak en hulle is soms gevaarlik en breek baie in ook."
Volgens ao. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is hulle besig met 'n ondersoekdossier en moet die oorsaak van die brand nog bepaal word.
Oudtshoorn Courant het egter Dinsdagoggend verneem dat twee persone vir besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem is.
'n Wakker Oudtshoorniet het twee mans in Baron van Reedestraat met sakke sien loop waaruit hulle items soos borde, koppies en koper skinkborde verkoop het. Daar was ook twee stoele by.
Die inwoner het die polisie gekontak en hulle is kort daarna met die items in hulle besit in hegtenis geneem.
Volgens Micheals het die Boshoffs wel die gesteelde items as hulle s'n uitgeken en het die polisie 'n klag van huisbraak ook gevoeg.
Dit is nog nie seker of die verdagtes enigiets met die brand te doen gehad.
Al wat oor is van die antieke winkel, Pasella. Foto's: Liezl van Niekerk
Vorige artikel: Brand breek uit by Pasella
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'