Update
OUDTSHOORN NUUS - Die lewens van twee gesinne is Dinsdag-middag net ná 14:00 in Bridgton in wyk 7 binne 'n ommesientjie op sy kop gekeer toe 'n brand die houthuis van 'n werklose gesin en 'n fietsherstelwinkel van 'n klein entrepreneur binne enkele minute tot op die grond afgebrand het.
Die twee houtstrukture, wat teen mekaar gebou was, het tot op die grond afgebrand.
Die blitsige optrede van die brandweer, wat binne vyf minute op die toneel was, het verhoed dat die brand aanliggende huise erg beskadig.
Jacobus Manuel, eienaar van die fiets-herstelwinkel, Cheap Services, sê hy het net sy badwater ingetap toe sy susterskind, die 11-jarige Esmi Marnewill, instorm en sê: "Uncle, dit brand hier buite."
Manuel sê toe hy buite kom was die vlamme al dakhoogte. "Alles het binne 'n oogwink gebeur. Daar was absoluut niks wat ons kon doen nie. Was dit nie vir die brandweer se vinnige optrede nie, kon daar waarskynlik baie meer huise afgebrand het."
Van sy fietswinkel het net 'n paar gebrande fietsrame oorgebly. "Gelukkig was my vrou, Delia, in George en is sy die trauma gespaar."
Al wat van Peter-Lee Marnewill en Fatema Fredricks se huis oorgebly het, is as. Hy is Manuel se buurman. "Ons het alles verloor: klere, kos, kombuisware én die nuwe skoene wat ek nog Saterdag gekoop het. Die klere wat ons aan ons lywe het, is al wat oorgebly het."
Buite het 'n hopie erg gebrande klere gelê. Dis nog onbekend hoe die brand ontstaan het.
Emile Cupido van Helping Hands Community Projects Oudtshoorn was op die toneel om hulp te verleen. Hy het 'n beroep op inwoners gedoen om enige ou klere, kombuisware en blikkieskos te skenk.
"Die munisipaliteit het onderneem om Woensdag te kom help om 'n nuwe strukture op te rig," het hy gesê.
Enigiemand wat graag 'n skenkings kan of wil maak, kan Manuel bel by 083 332 3384 of 078 555 1879.
Dié hopie klere is al wat gered kon word.
Dis al wat van die fietsherstelwinkel, Cheap Services, oorgebly het nadat 'n brand dit tot op die grond afgebrand het.
Vorige artikel : Brand in Bridgton verwoes lewens
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'