OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan nege van die tien verdagtes wat in hegtenis geneem is na 'n gewapende roof by die SWD Groentemark in Oudtshoorn in Oktober verlede jaar.
Landdros Stephanie Strydom het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid sal wees om borgtog aan die aansoekers toe te staan nie.
Die tien mans, waaronder 'n 17-jarige jeugdige, word van roof met verswarende omstandighede en menseroof aangekla.
Die saak spruit uit die gewapende rooftog op 22 Oktober verlede jaar toe die verdagtes glo die werkers van die groentemark vasgebind en met R30 000 kontant en vyf selfone op die vlug geslaan het.
Hulle is egter nog dieselfde dag naby Prins Albert vasgetrek. Uitspraak in die aansoek van die jeugdige is voorbehou omdat sy pa nie Vrydag by die hof kon wees nie. Die landdros het bevind dat die nege applikante nie eerlik was in hul aansoeke nie.
Die verdagtes het met hul arrestasie aan die ondersoekbeampte gesê dat hulle werkloos is, maar almal in hul verklarings gesê het dat hulle wel vaste werk het. Die hof het ook bevind dat die nege nie enige verbintenisse in Oudtshoorn het nie, en waarskynlik nie hof sal bywoon nie.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, staan die aansoeke teen omdat die staat 'n sterk saak teen verdagtes het, terwyl hul regsverteenwoordigers, adv. Benito Metembo en Brian Carelse van die Regshulpraad, van mening is dit in belang van geregtigheid is dat borgtog wel toegestaan word.
Van die verdagtes na hulle naby Prins Albert vasgetrek is.
Vorige artikels:
- Groentemarksaak uitgestel
- Borgtogsaak van 10 volgende week
- Gewapende rowers binne ure vas
- Vermeende rowers vas
- Nog 'n gewapende roof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'