OUDTSHOORN NUUS - Vir die eerste keer sedert die JF la Grange-dam in Ladismith gebou is, het dit so te sê opgedroog.
"Die dam is leeg," was die boodskap wat inwoners Dinsdag oor 'n luidspreker op 'n munisipale vragmotor wat deur die strate gery het, moes hoor. Daar is 'n groot moontlikheid dat water eersdaags van ander dorpe aangery sal moet word.
Reynold Stevens, munisipale bestuurder, van Kannaland het gesê: " Radikale waterbeperkings word onmiddellik ingestel as gevolg van die La Grange-dam wat feitlik leeg is.
Waterbeurte met beperkte waterure vir verbruikers mag selfs ingestel word indien ons nie die nodige samewerking kry nie."
Daar word reeds etlike jare gepraat en onderhandel oor 'n nuwe dam vir Ladismith aangesien die La Grange-dam vir jare nie bokant ongeveer 60% gevul kon word nie as gevolg van 'n probleem met die damwal.
Die dorp is tans ongeveer 70 % afhanklik van boorgate en slegs 50 liter water per persoon word per dag toegelaat. 'n Boete van R1 000 mag gehef word op enige verbruik wat 12 kl per maand oorskry. Maar, indien die situasie verder versleg mag boetes gehef word indien die maandelikse huishoudelike verbruik 6,2 kiloliter oorskry.
Nie-residensiële eiendomme moet tot 40% water per maand bespaar.
Die raad het ook die bestaande waterbeperkings verskerp en voortaan mag geen water hoegenaamd gebruik word om tuine nat te maak, swembaddens vol te hou of selfs motors te was nie.
'n Navraag is aan die Garden Route-distriksmunisipaliteit gestuur om te bevestig of daar dringende waterhulp vir Kannaland beplan word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'