Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Ernstige botsing in Kerkstraat gisteroggend het opnuut inwoners se kommer oor die padgedrag van sommige bestuurders beklemtoon.
Die botsing tussen 'n Mahindra Scorpion en 'n VW Polo het omstreeks 06:30 by die kruising van Kerk- en St Georgesstraat plaasgevind. Die Mahindra met ses insittendes, was met Kerkstraat onderweg toe die Polo vanuit St Georgesstraat, waar daar 'n stopstraat is, voor die Mahindra ingery het. Dit blyk dat die mense in die Mahindar deel is van 'n saamryklub.
Die Polo het aan die oorkant van die pad tot stilstand gekom en die Mahindra het omgeslaan en sowat 15 meter verder op sy dak te lande gekom.
Een insittende van die Mahindra is ernstig beseer terwyl die ander ligte beserings opgedoen het. Die bestuurder van die Polo het 'n harde hou teen haar kop gekry en was aanvanklik heeltemal deurmekaar.
Daar was die afgelope maand bykans tien ernstige botsings in die dorpsgebied. By drie van die botsings het die bestuurders van die toneel verdwyn en by ten minste twee is 'n persoon vir dronkbestuur in hegtenis geneem. By vier van die botsings het motoriste skynbaar stopstrate geïgnoreer en voor aankomende verkeer beland.
Een van die persone wat by 'n botsing by 'n kruising betrokke was, was skaars drie maande gelede by dieselfde kruising in 'n ander botsing.
Ander faktore wat tot die botsings bygedra het is spoed, roekeloosheid en nalatigheid. Volgens 'n verkeersbeampte wat anoniem wil bly is dit skokkend as mens sien en hoor hoe sommige motors en motorfietse jaag.
"Die spoedgrens is 60 km, maar selfs sestig is vinnig as jy byvoorbeeld in 'n systraat met huise ry.
"Mense neem nie die omstandighede, padoppervlak en onvoorsiene gebeure in ag nie. Ek is geskok as ek hoor hoe motors en motorfietse jaag asof hulle die enigste voertuie op die pad is."
By gisteroggend se botsing in Kerkstraat het 'n inwoner gesê hulle het al verskeie versoeke aan die munisipaliteit gerig om spoedwalle of addisionele stopstrate tussen die Moskee aan die bopunt van Kerkstraat en Adderleystraat aan te bring.
"Die mense jaag so in hierdie straat op en af dat ons elke dag vrees iemand gaan raakgery word."
Volgens die verkeersbeampte is dit so dat sommige kruisings en sommige strate meer botsings het as ander, maar hy hou vol dat bestuurders meer verantwoordelik moet raak en hulle gedrag op paaie daadwerklik moet aanpas.
"Dit is moeilik om sommer so te bepaal of iemand te vinnig gery het of nie, maar dit is maklik om te bepaal as iemand nie by 'n verkeersteken gestop het nie of net eenvoudig voor 'n ander kar ingedraai het."
Lees 'n vorige artikel: 7 beseer in botsing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'