Update
OUDTSHOORN NUUS - Besoedelde water wat uit 'n stormwaterpyp langs Kerkstraat in die Grobbelaarsriveir beland loop steeds onophoudelik. Nadat verskeie inwoners reeds in Februarie oor die stank langs die hangbrug in Kerkstraat gekla het en navrae aan die munisipaliteit gerig is, blyk dit dat die oorsprong van die water nog onbekend is.
Die munisipaliteit het aanvanklik in Maart in reaksie op 'n navraag van 7 Februarie, gesê die water wat by die stormwaterpyp uitloop is gryswater wat vanaf die weermagterrein kom.
Op daardie stadium is aangedui dat die weermag nie hulle samewerking gee deur munisipale amptenare toe te laat om die probleem te ondersoek nie.
Die Oudtshoorn Courant het van die water opgevang en aan 'n laboratorium gegee vir toetsing. Die vlak van besoedeling kon nie bepaal word nie, maar daar is bevestig dat daar aanduidings is dat daar hoëvlak besoedeling in die water is.
Nuwe monsters sou geneem word en George toe gestuur word vir toetsing. Dit is egter tydelik op die agtergrond geskuif omdat munisipale amptenare twee weke gelede by die pyp waar die water in die rivier beland, besoek afgelê het.
Munisipale amptenare by die stormwaterpyp waaruit besoedelde water in die Grobberlaarsrivier beland. Foto's: Hannes Visser
Hulle het aangedui dat die weermag opdrag ontvang het om munisipale amptenare van Oudtshoorn en Eden op die terrein toe te laat om die oorsprong van die besoedelde water te ondersoek. 'n Amptelike navraag is op 19 April aan die munisipaliteit gestuur.
In antwoord op die navraag het Ntobeko Mangqwengqwe op 24 April egter gesê met 'n besoek aan die weermagbasis op 18 April kon amptenare nie bevestig dat die water wel van die basis af kom nie.
Volgens hom was daar ten tye van die inspeksie geen teken van water wat in die stromwatersisteem kon beland nie.
Dit beteken dat septiese tenks en rioolpypleidings in die omgewing van die stormwaterpyp ondersoek moet word om die bron van die water te bepaal. Hy sê ook dat die munisipaliteit na maniere kyk om die stank in die rivier op te los en dat hulle CapeNature se hulp daarvoor inroep.
Volgens een van die inwoners wat die afgelope drie maande gereeld oor die besoedeling kla, is dit onaanvaarbaar dat die besoedeling vir maande en maande in die rivier beland sonder dat iets daaraan gedoen word.
Lees 'n verwante artikel: Besoedeling is 'weermagwater'
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'