OUDTSHOORN NUUS - Die besoedelde water wat uit 'n pyp langs Kerkstraat in die Grobbelaarsrivier beland kom glo van die weermagbasis af.
Die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, het hierdie week geantwoord op 'n navraag oor die besoedeling wat reeds geruime tyd gelede aan die munisipaliteit gestuur is.
Die Oudtshoorn Courant het die afgelope vier weke gereeld foto's by die brug in Kerkstraat en in St. Johnstraat geneem wat duidelike besoedeling van die Grobbelaarsrivier toon.
Verskeie inwoners en sakemense het gekla oor die toestand van die rivier. 'n Groot stormwaterpyp wat oorkant die hangbrug in Kerkstraat in die rivier uitmond, blyk die oorsaak te wees van rioolagtige opdrifsels en stank wat daar aangetref word.
Tydens verskeie besoeke aan die plek was die besoedeling van die water soms minder en soms meer. Hierdie week vloei daar min water uit die pyp uit, maar 'n laag onwelriekende besoedeling lê op die water tussen die riete by die pyp se mond.
Die besoedelde Grobbelaarsrvier stroomaf van die Kerkstraat-hangbrug.
Volgens Mangqwengqwe kom die gryswater van die weermagbasis af en alhoewel dit stink, meen hy dat dit nie rou riool bevat soos wat mense beweer nie.
Hy sê die weermag is reeds verskeie kere genader om aandag aan die probleem te gee, maar hulle beskik glo nie oor finansies om die probleem op te los nie.
Volgens hom probeer die munisipaliteit die reuk beveg deur chloor in die pyp te gooi, maar dit is nie effektief nie.
'n Inwoner wat naby die rivier woon, en gevra het om anoniem te bly, het Dinsdag op die toneel gesê die munisipaliteit se verskoning is nie aanvaarbaar nie.
"Ons moet elke dag met die stank saamleef, die rivier wat besoedel word is reg langs 'n gastehuis waar besoekers tuisgaan en om skouers op te haal en te sê dis die weermag se probleem is nie aanvaarbaar nie."
Die stormwaterpyp in Kerkstraat, waar besoedelde water daagliks uitloop en in die Grobbelaarsrivier beland. Foto's: Hannes Visser
Hy sê hy verstaan nie dat die weermagbasis in die munisipale gebied lê, munisipale dienste ontvang en dan die dorp se water besoedel sonder dat daar opgetree kan word nie.
Nog 'n inwoner, wat in 'n aftreeoord langs die rivier woon het gesê sy het al met hulle wyksraadslid oor die besoedeling gepraat, maar "daar kom niks van nie".
Helder rivierwater stroom-op van die Kerkstraatbrug.
'n Sakeman in St. Johnstraat, wat vier weke gelede gekla het oor die toestand van die rivier en die hoeveelheid rommel wat boonop ook in die rivier beland, het gesê hy is al moedeloos oor die situasie en die negatiewe beeld wat dit aan besoekers en kliënte bied.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'