KAROO NUUS - Die verhoor van 'n man van Beaufort-Wes wat van strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, aangekla word, is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere verhoor in die Beaufort-Wes-streekhof uitgestel.
Die 24-jarige Rufus Maans het op 15 Desember 2018 deelgeneem aan 'n versnelwedren (drag racing) wat deur die Beaufort-Wes-motorklub gereël is.
Sy motor, 'n Volkswagen Polo, het een van die toeskouers, die 24-jarige Clarence Loots, getref en hy is op die toneel dood verklaar.
Sers. Neil Damon, van die Beaufort-Wes-polisie, wat die betrokke aand van diens was, en op trappe op die hoek van Meyer- en De Vriesstrate saam met vriende gestaan het, het Dinsdag getuig dat hy vir 'n oomblik weggekyk het en toe 'n harde slag gehoor het. Toe hy opkyk het hy iets gesien wat vir hom soos 'n motorband gelyk het, deur die lug sien trek. Dit was egter 'n persoon wat deur Maans se motor getref is.
Volgens Damon skat hy die spoed van die twee motors van Maans en sy opponent, ene 'Naldo', was tussen 110 en 130 kp/h.
Na die motors stilgehou het, het hy gesien die windskerm en enjinkap van Maans se motor is beskadig. Maans het uitgeklim en voor sy motor gaan sit.
"Ek kon sien hoe hy sy kop vashou. Hy het gebewe en was duidelik erg geskok."
Volgens die getuie het toeskouers om die liggaam in die pad saamgedrom en foto's geneem. Hy het die polisie bygestaan om die nuuskieriges weg te kry sodat paramedici die slagoffer kon help.
Damon het op 'n vraag van die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, getuig dat hoewel daar versperrings weerskante van die pad was, mense tog maklik oor die ryvlak van die pad kon beweeg.
Die saak is na die kruisondervraging van Damon deur Maans se regs-verteenwoordiger, Sakkie Croucamp, deur streeklanddros Sylvia Mandla vir voortsetting tot 18 September uitgestel.
Maans is op waarskuwing uit en volgens die staat sal nog drie staatsgetuies geroep word om in die saak te getuig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’