Update
OUDTSHOORN NUUS - Die aansoeke van drie mans wat aan dwelmhandel en een van hulle ook aan poging tot moord en roekelose bestuur skuldig bevind is, om teen hul skuldigbevinding en vonnisse te appelleer, is Donderdag in die streekhof van die hand gewys.
Simphiwe Ndoni (30), Ephrahim "Speekbout" Malgas (40) en Anrich Williams (28) is daaraan skuldig bevind dat hulle op 14 Maart 2019 in besit was van dwelms.
Williams is ook aan poging tot moord en roekelose bestuur skuldig bevind. Ndoni en Malgas se getuienis dat hulle die betrokke dag 'n rygeleentheid by Williams gekry het is deur die hof verwerp, terwyl Williams besluit het om nie te getuig nie.
Ndoni is tot vyf jaar, Malgas tot drie jaar en Williams tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Hulle het in hul aansoeke wat deur hul regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, voorgehou is, aangevoer dat die hof fouteer het en dat 'n ander hof tot 'n ander beslissing kan kom. Hulle voer aan die landdros het fouteer deur nie hul persoonlike omstandighede in ag te neem nie en die belange van die gemeenskap oorbeklemtoon het.
Ndoni beweer dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en staatsgetuies mekaar weerspreek het. Malgas meen dat drie weergawes van die dag se gebeure voor die hof gebring is en die laboratoriumverslag verskil van die staatsgetuies se getuienis. Volgens hom was dit 'n klein hoeveelheid dwelms waarvoor lang vonnisse opgelê is en verswarende omstandighede oorbeklemtoon is..
Williams sê Ndoni het erken dat dit sy dwelms was en geen getuienis voor die hof gebring is dat die polisiebeampte wat hy glo wou omry voor die voertuig was nie.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius het die aansoek teengestaan.
Streeklanddros, Sylvia Mandla, wat die drie op 19 Oktober 2020 skuldig bevind en gevonnis het, het in haar uitspraak gesê dat sy aandag aan al die relevante kwessies gegee het en die regsverteenwoordiger wat die aansoeke voor die hof bring nie tydens die verhoor opgetree het nie.
Volgens haar het sy ook met die oplegging van die vonnisse reeds genade betoon en ligter vonnisse opgelê.
Sy is nie van mening dat 'n ander hof tot nuwe bevindings sal kom nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'