OUDTSHOORN NUUS - Drie mans van Oudtshoorn is in die streekhof aan dwelmhandel en een van hulle ook aan roekelose bestuur skuldig bevind.
Simphiwe Ndoni (30), Ephrahim 'Speekbout" Malgas (40) en Anrich Williams (28) is daarvan aangekla dat hulle op 14 Maart 2019 in besit was van dwelms en weggejaag het vir die polisie.
Williams het ook tereggestaan op aanklagte van roekelose bestuur en poging tot moord. Ndoni en Malgas se getuienis dat hulle die betrokke dag 'n rygeleentheid by Williams gekry het, is deur die hof verwerp, terwyl Williams besluit het om nie te getuig nie.
Ndoni het getuig dat die dwelms aan hom behoort het en Malgas en Williams nie daarvan bewus was nie.
Hulle was onderweg na Bongolethu toe hulle as gevolg van padwerke moes omdraai.
Toe Williams by 'n padblokkade wou stilhou het Ndoni hom versoek om dit nie te doen nie.
In die jaagtog daarna het hulle die dwelms weggegooi, maar polisiehonde het by die honde-eenheid nog dwelms in die voertuig uitgesnuffel.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het Ndoni en Malgas se getuienis verwerp en hulle is saam met Williams aan handel in dwelms skuldig bevind.
Williams is ook skuldig bevind aan roekelose bestuur.
Vonnisverrigtinge is op versoek van die drie se regsverteenwoordiger, Anzell Loubsher, vir proefbeampteverslae tot 19 Oktober 2020 uitgestel.
Vorige artikel: Dwelmsaak vir uitspraak uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'