OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen drie mans, wat van dwelmhandel, en een van roekelose bestuur aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel.
Simphiwe Ndoni (30), Ephrahim Malgas (40) en Anrich Williams (28) word daarvan aangekla dat hulle op 14 Maart 2019 in besit van dwelms was en Williams ook aan roekelose bestuur. Die alternatiewe aanklag is besit of gebruik van dwelms.
Ndoni en Malgas sê in hul waarskuwingsverklarings wat as bewysstukke deur die hof aanvaar is, dat hulle die betrokke dag 'n rygeleentheid by Williams gekry het.
Volgens Ndoni was hulle onderweg na Bongolethu, maar moes as gevolg van padwerke op die De Rust-pad omdraai. Hulle het 'n polisievoertuig by die Springbokweg-aansluiting sien staan en toe Williams wou stilhou het hy hom versoek om dit nie te doen nie omdat hy pille en tik by hom gehad het.
Williams het toe om die polisie gery en weggejaag waarna hulle agtervolg is. Tydens die jaagtog het hy van die dwelms ontslae geraak.
Hulle is in Rossouwstraat voorgekeer en in hegtenis geneem waarna hulle na die honde-eenheid geneem is. Daar het die honde nog dwelms in die voertuig uitgesnuffel het.
Volgens Ndoni het die dwelms aan hom behoort en was Malgas, alom bekend as Speekbout, en Williams nie daarvan bewus nie.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Anzell Loubscher, het beswaar gemaak teen die ophandiging van die waarskuwingsverklarings omdat die beskuldigdes glo deur die polisie geïntimideer en aangerand is, en hul regte ook nie aan hulle voorgehou is nie.
Die ondersoekbeampte ao Daromi Burger, het die hof egter meegedeel dat dit nie die geval is nie.
Die verklarings is die volgende oggend afgeneem en nie een van Ndoni of Malgas het gemeld dat hulle deur die polisie beïnvloed or gedreig is nie. Die verklarings is ook vrywilliglik afgelê.
Williams het besluit om van sy swygreg gebruik te maak en nie 'n waarskuwingsverklaring afgelê nie.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en is vir uitspraak tot 29 Julie 2020 uitgestel.
Ndoni, Malgas en Williams is in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'