OUDTSHOORN NUUS - Na aanleiding van die afgelope twee weke se veldtog in die plaaslike koerante en die ondersteuning, al dan nie, vir AIFA en vliegbedrywig-hede in Oudtshoorn is dit vir my as HUB 'n groot voorreg om die gemeenskap van Oudtshoorn te bedank vir die oorweldigende positiewe ondersteuning wat u aan AIFA gee.
Indien daar ooit twyfel in my gemoed was oor hoe Oudtshoorniete, AIFA en die gedreun van vliegtuie ervaar, is dit so pas besweer met elkeen wat deelgeneem het.
Daar is té veel briewe om te noem, maar gee my die geleentheid om spesifiek twee uit te lig.
Die eerste is waar daar beskryf word hoe twee van AIFA se Chinese studente 'n dame in 'n supermark gehelp het met haar pakkies en die tweede is 'n brief van Laerskool Wesbank wat die versekering gee dat die vliegtuie geen inbreuk maak op die skool se aktiwiteite nie.
Laat my toe om u meer in te lig ten opsigte van AIFA. In die jare rondom 2008 het een van die direkteure van AIFA, mnr. Jean Rossouw, met sy eweknieë in China die geleentheid gesien om vlieëniers vir Chinese lugrederye op te lei.
Die Chinese Lugvaart Owerheid voorspel dat China 100 000 vlieëniers gaan benodig in die volgende 20 jaar. Met die vraag na vlieëniers en die feit dat Engels 'n noodsaaklikheid is in lugvaart, is daar 27 vliegskole wêreldwyd gestig om die 5 000 vlieëniers per jaar op te lei. AIFA word tans op die sesde posisie gereken deur die Chinese Lugvaart Owerheid. Hier is tans 209 studente in Suid-Afrika en 650 is reeds suksesvol opgelei.
Wie is die studente?
In graad tien van die Chinese skooljaar skryf elke leerling aanleg- en akademiese eksamens.
Die student word dan gegradeer en word dan deur universiteite genader om sekere beroepe te volg.
Beginnende by beroepe soos kernkragfisika word n hiërargie opgestel waar vlieëniers in die top 30% val. Elke student wat by AIFA arriveer het reeds sy tweede jaar in lugvaartkunde geslaag. Ons studente kom van Nanjing University of Avionics and Astronomic. Die derde grootste Universiteit van 11 soortgelyks in China. Elke student is reeds 'n werknemer by 'n lugredery met 'n werknemers-kontrak van tussen 60 tot 99 jaar afhangende van redery. Elkeen van ons studente het dus n beroep vir minstens die volgende 60 jaar.
Wat is die volgende stap?
AIFA vra net vir 'n regverdige geleentheid om sy aktiwiteite suksesvol en effektief te bestuur. Die beperkings wat op AIFA geplaas is, laat ons nie toe om ons doelwitte koste-effektief te bedryf nie en moet ons aanpassings maak met groot finansiële koste vir AIFA en ook groot finansiële verliese aan die gemeenskap van Oudtshoorn. AIFA vra nie cart blanche om te maak soos ons goed dink nie. AIFA strewe juis na wedersydse respek van almal.
AIFA wil deel in die ekonomiese groei van Oudtshoorn; 'n aspek wat onontbeerlik en noodsaaklik is vir elke moderne gemeenskap. Wonder wat sou CJ Langenhoven en Baron van Rheede van Oudtshoorn vandag gesê het, sekerlik dieselfde wat ons van Oudtshoorn oor 80 jaar sal sê?
Weereens dankie aan ieder en elk, vir of teen, wat moeite gedoen het om hul stemme te laat hoor. Die teenstem is net so belangrik, want dan is die beeld bekend en kan wedersydse respek en regverdigheid gehandhaaf word.
Pikkie Siebrits (HIB van AIFA)
Die Oudtshoorn Courant beplan volgende week 'n berig oor die verloop van die publieke deelnameproses ten opsigte van die verordeninge oor die lughawe wat deur die Wes-Kaapse regering vasgestel is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'