OUDTSHOORN NUUS - Aifa, die vliegskool op Oudtshoorn het verlede Donderdagaand tydens die Oudtshoorn-sakekamer se eerste netwerkaand in nege maande, bevestig dat hul deure amptelik op Oudtshoorn sluit.
By dieselfde geleentheid het SWD-krieketunie, by wie se perseel die netwerkaand aangebied was, by monde van sy hoof- uitvoerende beampte, Albertus Kennedy, aangekondig dat dié unie ook beplan om in die toekoms te verskuif.
Albei maatskappye se voornemens is om na George te skuif.
In die geval van Aifa is dit net die vlieg- en opleidingsoperasies wat volgens Pikkie Siebrits (hoof- uitvoerende beampte van Aifa), onbepaald gestaak gaan word.
Tydens sy spreekbeurt het Siebritz gesê dat die opskorting van hul vlieg- en opleidingoperasies nie beteken dat Aifa in sy geheel gaan sluit nie.
"Dit is slegs 'n afskaling wat genoodsaak was deur die Covid-19-pandemie. Sowat 13 administratiewe personeel sal steeds op Oudtshoorn van 'n werk verseker wees. Ongelukkig sal daar 66 werknemers wees wat weens Aifa se verskuiwing hul werk kwyt sal wees."
Volgens Siebritz het die verwoestende gevolge van die pandemie op Oudtshoorn ’n direkte invloed daarop gehad dat slegs 40 nuwe buitelandse vliegstudente vir opleiding by Aifa aangemeld het in plaas van die gewone 260 per jaar.
Siebrits het verduidelik dat die studente se ouers nie hul kinders oorsee wil stuur nie uit vrees vir Covid-19.
"Weens die lae getalle studente is die operasionele kostes te hoog en die 14 dae isolasietydperk het die situasie ook vererger. Boonop het die Wes-Kaapse regering se beperkings op opleidingsvlugte op Oudtshoorn sake verder bemoeilik nadat sommige plaaslike inwoners van rusverstoring gekla het. Indien die situasie drasties verbeter sal ons in die toekoms weer na Oudtshoorn terugkeer,' het Siebrits gesê.
Jaco Vorster voorsitter van die Oudtshoorn-sakekamer, het die sluiting van die twee maatskappye op Oudtshoorn betreur en beklemtoon dat Oudtshoorn nou meer as ooit moet saamstaan en plaaslik ondersteun.
Vorster het Chris McPherson (nuutverkose burgemeester), wat ook teenwoordig was, uitgesonder en gesê dat Oudtshoorn sy leierskap in die komende uitdagende maande nodig sal hê.
Hy het ook Oudtshoorn se besighede vir hul hardnekkige kannie-dood-houding gedurende die Covid-19-tydperk geprys omdat dit vir baie letterlik en figuurlik 'n toets van lewe en dood was.
Van die onderwerpe op die aand se agenda was die beveiliging van die dorp ten opsigte van die installering van kameras in en buite die dorp, waterprojekte asook maniere om Oudtshoorn se ekonomie te stimuleer.
Vorster het ook lidmaatskapsertifikate aan 10 nuwe besighede oorhandig wat verteenwoordigers van Across the Board wealth & Risk management, Gas It, GCI wealth, Harcourts, MG Bottels & Water, Oasis Water, Oudtshoorn Dogs in need, Seeff Eiendomme, Swans-kwekery en Web Works ontvang het.
Van links is Chris McPherson, (burgemeester), Pikkie Siebrits (uitvoerende hoof van Aifa), Albertus Kennedy, (uitvoerende hoof van SWD-krieket) en Jaco Vorster (voorsitter van die Oudtshoorn- sakekamer). Foto: Wyndham Ewerts
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'