Update
CALITZDORP NUUS - Jan Johannes (62) van Bergsig, met veertien vorige veroordelings, wat 'n 45-jarige man verwurg en aan moord skuldig bevind is, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê.
Hy het erken dat hy en die oorledene, Frans van Wyk, saam gewoon en hulle die betrokke dag saam gedrink het.
Die oorledene en die ma van hul drie kinders was later in 'n argument en Johannes het hom teen sy nek by die huis uitgestoot en verder gedrink.
Hy het die volgende dag gehoor dat Van Wyk gesterf het, omdat hy glo nie asem kon kry nie.
Johannes het aangevoer dat hy nie bedoel het om Van Wyk dood te maak nie. Sy regshulprokureur, Cindy Murray-Smith, het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis vir moord omdat daar buitengewone omstandighede bestaan en om selfs 'n korrektiewe toesigvonnis te oorweeg omdat die skuldige nie meer jonk is nie.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof egter versoek om Johannes direkte gevangenisstraf op te lê omdat dit die enigste gepaste vonnis vir die misdryf sal wees.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het Johannes se getuienis as leuens verwerp. Sy het in haar uitspraak gesê dat niemand anders die betrokke dag in 'n bakleiery met die oorledene was nie behalwe die beskuldigde. Hy kon ook nie verduidelik hoe Van Wyk aan sy beserings gekom het nie. Volgens haar is die oorledene se vrou baie ongelukkig omdat hy die enigste broodwinner was en sy nou drie kinders alleen moet grootmaak.
"Die hof moet 'n boodskap uitstuur dat mense wat geen respek vir ander mense se lewens het nie, gepas gestraf word," het die landdros gesê.
Sy het in ag geneem dat Johannes in 1992 laas 'n misdaad gepleeg het, hy nie meer jonk is nie en geen wapen gebruik is nie, maar hy toon egter geen berou nie.
Vorige artikel: Calitzdorp-man van 60 skuldig aan moord
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'