OUDTSHOORN NUUS - 'n 60-jarige man van Bergsig, Calitzdorp, met 14 vorige veroordelings op sy rekord, wat 'n 45-jarige man verwurg het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof aan moord skuldig bevind en vonnisverrigtinge vir 'n korrektiewe toesigverslag uitgestel.
Jan Johannes het onskuldig gepleit en in sy pleitverduideliking gesê dat hy en die oorledene die betrokke dag saam gedrink het.
Die oorledene en sy meisie was later in 'n argument en hy het hom teen sy nek by die huis uitgestoot.
Volgens hom het hulle later verder gedrink en hy het die volgende dag gehoor dat Van Wyk dood is omdat hy glo nie asem kon kry nie.
Die staatsaanklaer, Brendon Smith, het die hof gevra om Johannes aan moord skuldig te bevind omdat hy homself in sy getuienis in die hof weerspreek het.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Johannes se pleitverduideliking asook sy getuienis verwerp.
Sy het in haar uitspraak gesê dat niemand anders die betrokke dag in 'n bakleiery met die oorledene was nie behalwe die beskuldigde.
Hy kon egter nie verduidelik hoe die oorledene aan sy beserings gekom het nie en afgewyk van die instruksies wat hy aan sy regsverteenwoordiger, Cindy Smith van die Regshulpraad, gegee het.
Hy het, volgens getuies, ook aan die oorledene gesê dat hy hom sal doodwurg indien hy nie stilbly nie.
"As gekyk word na die beserings van die oorledene is dit duidelik dat die beskuldigde die bedoeling gehad het om hom dood te maak," het die landdros gesê.
"Hy was nie eerlik met die hof nie en sy getuienis het verskil van die getuie wat hy self geroep het om vir hom te kom getuig.
"Die hof is dus tevrede dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het."
Vonnisverrigtinge is tot 22 Februarie uitgestel.
Johannes is op waarskuwing vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'