OUDTSHOORN NUUS - Die plaaslike Afriforum-tak het verlede week samesprekings met minister Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, gevoer. Die voorsitter, Johan Conradie, het hierdie week gesê dit sou voortydig wees om nou al in detail te verduidelik wat die inhoud van die gesprek was, maar hy het wel 'n hele aantal kwessies genoem wat met die minsiter bespreek is.
Een van die sake wat inwoners tans bekommer is die feit dat daar reeds vir geruime tyd geen raadsvergaderings plaasgevind het nie en dat daar wyd gegis word oor tweespalt onder die DA-raadslede. Hierdie is een van die kwessies wat Afriforum dringend onder die minister se aandag gebring het.
Belangrike besluite soos die dorp se begroting, die geïntegreerde ontwikkelingsplan en die ernstige watersituasie kon nog nie hanteer word nie aangesien daar geen raadsvergaderings was nie. Dit blyk dat die minister hiervan bewus is en dat die situasie tans ondersoek word,
Van die ander kwessies waaroor Afriforum besorg is, is die riooltariewe wat volgens hulle nie korrek bereken is nie, die kritiese watersituasie en die onduidelikheid oor vordering van die Blossoms-projek.
Daar was ook gevra dat die minister terugvoer sal gee oor die forensiese ondersoek waarna daar gereeld verwys word en Afriforum bevraagteken die salarisverhoging van senior amptenare soos die munisipale bestuurder en ander direkteure wat glo hoër is as wat voorgeskryf is. Ander sake waaroor vrae gevra is, is die afskryf van raadskedule, die straatkind-probleem, hantering van deernisbehuising en sekuriteitstenders.
Volgens Conradie het die minister aangedui dat 'n hele aantal van die kwessies reeds ondersoek word en dat kwessies wat onder sy aandag gebring is ook ondersoek sal word.
Lees 'n verwante artikel: Burgemeester lê kriminele klagtes
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'