OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het bevestig dat drie kriminele klagtes verlede week deur die burgemeester en 'n DA-raadslid gelê is. Die klagtes hou verband met beweerde bedrog en omkopery binne die munisipaliteit.
Die polisie het nie gesê teen wie die klagte gelê is nie en ook nie of al die klagte teen een of meer persone gelê is nie. Volgens kapt Louis Visser, kommunikasiebeampte van die SAPD is die volgende twee klagtes deur Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, gelê:
Tenderbedrog ten opsigte van 'n kontrak wat tussen 1 Julie 2017 en 30 April 2019 toegeken is ten bedrae van R1 558 251,40.
Omkopery op 4 April 2019 by die munisipaliteit toe daar glo "aan 'n persoon gesê is dat sy kontrak met die munisipaliteit hernu sal word as hy die burgermeester kan oorreed om nie klagtes teen hom te lê nie, of terug te trek".
'n Klag van bedrog is ook deur DA raadslid Hendrik Ruiters gelê. Volgens Visser is die tydperk wat betrokke is 1 Oktober 2018 tot 2 Mei 2019. Die klag "handel oor 'n tender wat toegeken is, R17 000 000".
Visser het gesê die sake word deur die eenheid vir handelsmisdaad ondersoek.
In reaksie op 'n navraag het Allen Paulse, munispale bestuurder, gister gesê hy is bewus dat daar klagte gelê is, maar dat hy nie weet wat die aard en omvang daarvan is nie. Hy het bygevoeg dat hy dit verwelkom as mense beweerde oortredings by die owerhede en wetstoepassers aanmeld.
Dit is nie seker of die sake wat geopen is verband hou met die kwessies oor tenders wat deur Afriforum met die minsister van plaaslike regering bespreek is nie.
Lees 'n verwante artikel: Afriforum nader minister
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'