Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Gerrie en Liza Ferreira van Chandelier en Karoo Livestock Exports (KLE) het Dinsdagaand, 10 Maart, gaste by die besigheid se 30ste bestaansjaar verwelkom.
Onder die gaste was individue wat deur die 30 jaar 'n pad saam met Gerrie gestap het, en is die geleentheid gebruik om alle rolspelers in die lewende hawe uitvoerbedryf, wat 'n rol in KLE se suksesverhaal gespeel het, by Chandelier Game Lodge te trakteer met Canapés uit die heel boonste rakke, aangesien die Ferreira's regtig uit hulle harte aan almal wou dankie sê.
In gesprek met Gerrie noem hy dat KLE op die dag en datum 30 jaar gelede, op 10 Maart 1996 gebore is toe hy met die eerste vrag broeivolstruise in Kairo, Egipte geland het.
"KLE is uit nood gebore, maar het met die seën van Bo gegroei tot waar dit vandag is. Karoo Livestock Exports het oor die afgelope 30 jaar, volstruise, beeste, skape en veral bokke na 57 lande uitgevoer. Gerrie erken dat dit nie altyd maklik was as die deure, weens peste en plae in Suid-Afrika, voor hom toegeklap is nie, maar hy het gou geleer dat in elke uitdaging daar altyd geleenthede is.
"Die enigste manier om die geleenthede te ontgin is om nie agter die toe deur weg te kruip nie, maar om aan te hou klop. Toe deure word net oopgemaak as jy aanhou klop," noem Gerrie.
Die Ferreira's wat KLE die afgelope tien jaar saam met hulle kinders, Ockie en Blanche Nel bestuur, glo dat hulle nooit KLE se suksesverhaal alleen kon skryf nie. Hulle glo daarin om KLE met kundige mense, soos die gaste by die funksie duidelik weerspieël het, te omring. "KLE se sukses is ook die sukses van elkeen van die kundiges vanaand hier teenwoordig," beklemtoon hy.
Len Ferreira, Gerrie se broer, wat ook vanaf 1996 direk of indirek by KLE betrokke was, het dit duidelik gemaak dat Gerrie nie maklik 'nee' vir 'n antwoord vat as hy in 'n saak glo nie. Volgens Len is Gerrie se toegewydheid en entoesiasme aansteeklik en spoedig glo almal in die saak.
Die verhouding wat Gerrie en sy span met al die betrokkenes het, is besonder opvallend. Trane het soms vrylik gevloei terwyl herinnering oor die afgelope 30 jaar deur Gerrie en die gaste gedeel is.
Hy het ook aangekondig dat Ockie en Blanche nou die bestuur van KLE gaan oorneem, maar dat hy steeds met die bemarking sal help, en sy 30 jaar lewendehawe uitvoerondervinding steeds tot hulle beskikking sal wees.
Hy het afgesluit deur te sê: "Karoo Livestock Exports se leuse is, 'Quality is the name of the game', hierdie vaandel sal KLE altyd met trots dra en sal ons voortdurend poog om die lewens van mede-boere oral oor die wêreld te verbeter deur middel van die voortreflike genetika uit Suid-Afrika."
- Knockout trek aandag by Nampo 25
- Knock Out pronk as kampioen
- Internasionale boerbokkursus
- Breeding full blood cattle from Karoo priority for Kenya farmers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’