OUDTSHOORN NUUS - Die Klein-Karoo spog met 'n besondere eer nadat die Boerbokrammetjie, Knock Out van Karoo Livestock Boerbokstoetery op die plaas Chandelier, net buite Oudtshoorn aangewys is as die Wêreld Junior Kampioen Ram, asook die Wêreld Reserwe Grootkampioen Ram.
Die wêreldboerbokkampioenskappe is vanaf 28 April tot 1 Mei in Bloemfontein aangebied en nagenoeg 1 750 bokke is vertoon.
Oudtshoorn Courant het Maandag-oggend, 5 Mei, by die eienaars van Karoo Livestock-boerbokstoetery, Gerrie Ferreira en sy skoonseun, Ockie Nel gaan inloer.
Beide is steeds in die wolke met Knock Out se prestasies. Volgens Ferreira het hulle altyd geweet Knock Out is 'n besonderse korrekte rammetjie, met ander woorde met baie min foute, maar die 10 maande oue rammetjie het volgens hom ander planne in Bloemfontein gehad.
"Hy het nie net opgedaag nie, maar die wêreld aan die brand geskou." Hy het hom volgens Ferreira soos 'n droom vertoon en die drie beoordelaars was dit eens dat hy die 2025 Wêreld Junior Kampioen is.
Later het Knock Out verder op sy prestasie voortgebou en is hy ook gekroon as die Wêreld Reserwe Groot Kampioen Ram.
Karoo Livestock-boerbokstoetery het ook verskeie ander toekennings op die wêreldkampioenskap verower, waarop die span baie trots is, maar Knock Out het hul voete letterlik en figuurlik onder hulle uitgeslaan.
Volgens Ferreira het hy reeds verskeie ongelooflike aanbiedinge vir die nuwe wêreldkampioen gehad, maar beplan hulle nie om hou nou van die hand te sit nie. "Ons gaan eers met hom teel en sy nageslag, asook bevrore semen, aan die mark beskikbaar stel."
Ferreira dra groot respek onder die boerbokgemeenskap en is bekend as 'n mentor en geakkrediteerde beoordelaar by die Suid-Afrikaanse Boerbokvereniging. Hy het jare se ondervinding in die boerbokstoetery en kommersiële bedryf en voer bokke uit vir teeldoeleindes. In die buiteland is die bokke hoog in aanvraag, want verbruikers is bewus van die waarde van goeie genetika vir kruisteling van rasse, asook hoëgehalte-vleis.
Knock Out se volgende amptelike vertoning is van 13 tot 16 Mei op NAMPO by Bothaville. Ferreira is genooi om die SA Boerboktelers by hulle NAMPO-stalletjie te verteenwoordig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’