OUDTSHOORN NUUS - Chandelier Game Lodge buite Oudtshoorn het die afgelope week die geskiedenisboeke gehaal met die eerste amptelike, internasionale junior boerbokkursus wat op die plaas vir nagenoeg 20 kursusgangers van sewe verskillende lande aangebied is.
Die kursus is onder die beskerming van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging (SABTV) aangebied met twee beoordelaars van SABTV as kursusleiers, Gerrie Ferreira en Nicky Nell, teenwoordig.
Kursusgangers van Uganda, Indië, Kenia, Malawi, Ghana, Amerika en Suid-Afrika het die kursus bygewoon wat gefokus het op die gewilde Suid-Afrikaanse boerbok, Kalahari Reds, en Savanna-bokke.
Na afloop van die kursus het die studente verdere lesings ontvang rakende algemene kleinveeboerdery.
'n Hoogtepunt was 'n lesing deur die wêreldbekende veearts, dr. Hamiisi Semanda van Uganda oor bokboerdery in Oos-Afrika.
Volgens Gerrie Ferreira is die internasionale aanvraag vir Suid-Afrikaanse kleinvee teelmateriaal ongekend. "Ek voorspel 'n rooskleurige toekoms vir veral die kleinvee-uitvoerbedryf. Die Karoo Livestock stoeterye is wel bekend vir hoë gehalte genetika, en maak die buitelandse besoekers van die geleentheid gebruik om topkwaliteit diere aan te koop en uit te voer na hul eie lande."
Die kursus is gedeeltelik geborg deur Karoo Livestock Exports van Ferreira en sy skoonseun, Ockie Nel. Karoo Livestock Exports voer sedert 1996 bokke, skape, beeste en volstruise uit na 53 lande.
Oudtshoorn Courant het Donderdag 18 Julie besoek afgelê by Chandelier om meer te leer oor die unieke bokras op Ferreira se plaas. Ferreira dra groot respek onder die boerbokgemeenskap en is bekend as 'n mentor en geakkrediteerde beoordelaar by die Suid-Afrikaanse Boerbokvereniging. Hy het jare se ondervinding in die boerbokstoetery en kommersiële bedryf en voer bokke uit vir teeldoeleindes. Volgens Ferreira kan hy tans beswaarlik aan die internasionale vraag voldoen.
"Boerbokvleis is baie gewild oral in die wêreld, maar skaars in die vleisafdeling van plaaslike supermarkte. Heelwat bokke word na KwaZulu-Natal gestuur, waar die diere vir geloofsdoeleindes geslag word. In die buiteland is die bokke egter hoog in aanvraag, want verbruikers is bewus van die waarde van goeie genetika vir kruisteling van rasse, asook hoëgehalte-vleis."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’