OUDTSHOORN NUUS - Hoërskool Protea bied 'n leerders-ondersteuningsprogram aan vir leerders wat beoog om hul aanvullende matriekeksamen in Mei-Junie te skryf.
Volgens Gysie Strydom, nuutaangestelde hoof by Hoërskool Protea, is hierdie 'n gulde geleentheid vir leerders om hul punte in 'n gemaklike klaskameromgewing te verbeter.
Hy sê dat die skool oor die nodige infrastruktuur en oorgenoeg leë klaskamers beskik om aan die behoeftes van alle Oudtshoorn-leerders wat van hierdie tweede kans gebruik wil maak, te voorsien.
Die skool is ook bewus dat sommige leerders deeltyds werksaam is. Hul studierooster sal egter daarvolgens aangepas word, het Strydom gerus gestel.
Tot dusvêr het sowat 42 leerders ingeskryf vir dié klasse wat reeds drie weke gelede onder die tutorskap van agt ervare afgetrede onderwysers, begin het. Die verskillende vakke wat tans aangebied word, sluit wiskunde, geografie, geskiedenis, biologie, besigheidstudies, Engels en wiskundige-geletterdheid in.
Die sperdatum is 15 Maart vir leerders wat vir die Mei-Junie aanvullende matriekeksamen wil registreer.
Alle leerders wat van hierdie geleentheid gebruik wil maak kan by H&R skryfbehoeftes in Kerkstraat aanmeld sodat hul besonderhede op die databasis geplaas kan word.
H&R is ook by die program betrokke deur die borgskap van materiaal.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'