Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee persone was teen gister in hegtenis geneem vir die moord op 'n stafsersant in die weermagbasis in Oudtshoorn.
Die moord op stafsersant Preston Titus (47) verlede Vrydagnag op die basis van die Oudtshoorn Infanterieskool het skokgolwe deur die dorp gestuur.
Volgens kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is twee persone, 'n 37-jarige vrou en 23-jarige man Woensdagaand om 20:30 deur die ondersoekspan in hegtenis geneem.
Teen spertyd gistermiddag was hulle nog nie amptelik van enige misdryf aangekla nie.
Dit is dus nog nie duidelik of dié twee verdagtes in die hof gaan verskyn nie.
Berigte wat gisteroggend op mediawebtuistes en sosiale media verskyn het, dat Prestin se vrou in hegtenis geneem is, was ten tye van die berigte onwaar.
Volgens Pojie was Magdaleen Titus slegs vir ondervraging by die polisie. Sy is egter gistermiddag (Donderdag) weer vrygelaat.
Magdaleen is 'n ANC-raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit en 'n lid van die ANC se provinsiale uitvoerende raad in die Wes-Kaap.
Stafsersant Titus se liggaam is Saterdag, in die vroeë oggendure, met verskeie steekwonde in 'n slaapkamer in sy huis aangetref.
Die Oudsthoorn Courant het vertroulik verneem dat daar steekwonde aan sy gesig, sy nek en op sy rug was.
Dit is egter nie duidelik watter wond sy dood veroorsaak het nie.
Pojie het verder gesê daar was geen gedwonge toegang tot die huis nie en dat twee tablette en 'n goue horlosie uit die huis gesteel is.
Volgens Titus het sy en haar jongste dogter, Amoré, in die hoofslaapkamer geslaap en haar man het in die kamer langsaan geslaap.
"Die oudste meisiekind, Penelope, was by vriende. My kamerdeur was toe en die waaier was aan. Ek het wakker geskrik uit 'n diep slaap toe ek Penny aan die venster hoor klop. Ek het my kamerdeur oopgemaak om my man te vra hoekom hy nie vir haar oopgemaak het nie, en dit is toe ek die bloed sien."
Volgens haar het hy tussen die twee enkelbedjies gelê en was daar baie bloed.
"Dit was vreeslik om my man so te sien. Ek dink hy het dalk nie geskree nie omdat hy bang was dat die aanvallers my en my dogter ook sou kom seermaak."
Behalwe vir die horlosie en tablette, het Titus gesê dat haar selfoon ook gesteel is. Die items was glo in die sitkamer.
Maj.genl. Oswald Reddy, die Eden-klusterbevelvoerder, het Donderdag gesê alhoewel die saak in 'n uiters sensitiewe stadium is, is hy tevrede met die toewyding en harde werk van Oudtshoorn se speurders.
"Daar is reeds baie werk gedoen, maar ons sal by ons mandaat hou en diegene wat verantwoordelik is vir die moord vang."
Mafi Mgobozi, die woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weermag, het gesê 'n offisier van die weermag wat die betrokke nag aan diens was het na die huis gegaan na hy van die voorval gehoor het, maar Titus was toe reeds dood.
Minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, het haar medelye aan die Titus-familie betoon.
Enigiemand met verdere inligting oor die voorval kan ao. Martin le Roux, die ondersoekbeampte, by 044 274 4430 of 082 402 1730 of 08600 10111 skakel.
Die Oudtshoorn Courant het reeds vroeg Saterdagoggend van die moord verneem.
Sedertdien het verskeie brokkies inligting die koerant bereik.
Nadat 'n berig op 'n mediahuis se webtuiste verskyn het dat Magdaleen Titus in hegtenis geneem is, het dit op sosiale media gegons met bespiegelinge en bewereinge waarvoor daar skynbaar nog nie gronde beskikbaar was nie.
Derhalwe het die Oudtshoorn Courant gewag op 'n amptelike verklaring vanaf die polisie. Volgens inligting waaroor beskik word, mag daar moontlik nog arrestasies volg.
Lees verwante artikels:
- Vermoorde soldaat gehuldig
- Man en vrou gearresteer in Titus-moord
- ANC-Raadslid tans nie in hegtenis
- Geen arrestasie na moord
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'