Update Warning: Graphic content
OUDTSHOORN NUUS - Na die wrede dood van 'n bergskilpad die afgelope naweek is die kwessie oor die beskerming van diere in die natuur weer beklemtoon.
Dr. Glen Carlisle, 'n plaaslike veearts, het die Oudtshoorn Courant die afgelope week genader na hy 'n erg mishandelde skilpad van ongeveer 50 jaar oud moes uitsit. Volgens Carlisle was die skilpad vermoedelik met klippe gegooi.
"Die voorval is deur 'n fietsryer onder my aandag gebring na hy die skilpad langs die Vergelegen-pad gekry het.
"Die skilpad se dop was onherstelbaar beskadig en hy het ook 'n gat in sy long gehad wat ernstige lyding tot gevolg gehad het."
Hy het verder gesê dat hy alles in sy vermoë gedoen het om die skilpad te red, maar weens die skade aan sy dop en long kon hy nie.
"Die skilpad moes deur die gat in sy long asemhaal. Dit was 'n grusame ding om te aanskou. Dit was ook moeilik om hom uit te sit omdat ek nie by 'n aar kon uitkom nie."
Carlisle sê hy wil sulke kwessies onder die gemeenskap se aandag bring sodat toekomstige voorvalle verhoed kan word.
"Ons kan slegs beweer wie verantwoordelik was vir hierdie wrede daad, maar ons kan probeer om dit onder die mense se aandag te bring sodat so iets nie weer gebeur nie.
"Skilpaaie is totaal onskadelik en het ook die reg op lewe, net soos enige ander mens en dier.
"Ek dink dit is ook belangrik dat ouers met hulle kinders moet praat oor die bewaring van die diere wat in die natuur leef.
Die skilpad wat deur Dr. Glen Carlisle uitgesit moes word na hy vermoedelik met klippe gegooi is.
"Kinders moet leer dat die mishandeling en onnodige doodmaak van enige dier onnodig en onaanvaarbaar is."
Carlisle het ook gesê padverbruikers moet ekstra versigtig vir skilpaaie wees.
"Dit is somer en warm en die skilpaaie beweeg oor die paaie. Indien moontlik stop en haal eerder die skilpad uit die pad uit. Moet nie die skilpad huis toe neem nie, want daar is lisensies nodig om skilpaaie te mag aanhou."
Carlisle het reeds twee skilpaaie by sy spreekkamer wat deur voertuie raakgery is.
"Ek het 'n spesiale permit om hulle hier te hou. Ek probeer sover moontlik om die beskadigde doppe van die skilpaaie met glasvesel te herstel.
"Dit is egter 'n baie tydsame proses," het hy gesê.
Lees 'n vorige artikel: Wreedheid met skilpad skok veearts
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'