Update
PRINS ALBERT NUUS - 'n Laerskoolleerder van Prins Albert is by die onlangse provinsiale WOW-spelkompetisie (Woorde Open Wêrelde) in Stellenbosch aangewys as een van die Wes-Kaap se topspellers.
Johdaleez Brits (10), 'n graad 3-leerder van Prins Albert Primêr, het vyfde gekom in haar ouderdomsgroep in dié kompetisie wat deur die Universiteit van Stellenbosch en Sanlam geborg word.
Haar klasonderwyseres, Leoni Moolman, en die plaaslike WOW-spelkoördineerder, Diana Koorts, albei van Prins Albert Primêr, vertel dat dit bykans onmoontlik was om haar vas te vra en dat sy die letters teen 'n verstommende tempo ingeryg het.
Ná 60 spelrondes en twee uur en twintig minute se onophoudelike toetsing was dit "liedjie" wat haar uitgeknik het – 'n woord wat deel is van die graad 5-spellys. Woorde soos "onmiddellik", "eksperimenteer", "Mpumalanga", "netbaloefening" en "geëet" was egter vir haar kinderspeletjies.
En vra jy die fyn meisietjie hoe sy dit regkry, sê sy woorde is soos prentjies. "Sodra ek 'n woord gelees het, síén ek hom voor my." Volgens Koorts het Prins Albert Primêr eers in Beaufort-Wes aan die kringkompetisie deelgeneem, waar alle skole in dié gebied verteenwoordig was. Hoogstens drie kinders uit elke graad uit elke skool het daarheen gegaan, volgens die kompetisiereëls. Sewe van Prins Albert Primêr het na die volgende ronde op George deurgedring.
"Die George-ronde het skole van Murraysburg tot Plettenbergbaai tot Riversdal ingesluit. Hier het Johdaleez eerste in haar jaargroep gekom. Al die voorgeskrewe graad 3-woorde is gevra – hulle kon haar glad nie uitvang nie en het toe na die graad 4-woorde oorgegaan. Later het niemand meer teen haar gespel nie."
In die provinsiale ronde op Stellenbosch, waar leerders van alle Wes-Kaapse skole deelgeneem het, het Johdaleez so vinnig met die graad 3- en graad 4-woorde klaargespeel, dat die beoordelaars na die graad 5-woorde aanbeweeg het, "wat ons nie voorberei het nie. Sy het op die woord 'liedjie' uitgeval. Ek dink haar brein het moeg geraak. Sestig rondes is geweldig baie."
Koorts het Moolman bedank vir die "ure se voorbereiding, ook in die Junie-vakansie". Sy het self soms ook vir Johdaleez onder hande geneem en gesorg dat 'n paar dorpsinwoners daagliks met die speloefeninge help.
Johdaleez is die dogter van George Brits en Tilla Stal. "Hulle het haar deurgaans ondersteun," sê Koorts. "Haar sukses is 'n sameloop van omstandighede. Sy's 'n wonderlike kind, gemotiveerd en het nooit gesê sy's moeg nie. 'n Regte all-rounder, goed in Wiskunde en ál haar vakke. Dis 'n plesier om met haar te werk. Sy mik nou na nasionale deelname. Woorde is werklik besig om vir Johdaleez wêrelde te open."
Lees 'n vorige artikel: Prins Albert se topspeller speel klaar met moeilike woorde
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'