KLEIN KAROO NUUS - Die Kannaland-munisipaliteit het inwoners dringend gewaarsku teen `n watertekort en het streng waterbeperkings ingestel.
In `n omsendskrywe van 12 September is waterbeperkings wat reeds in Januarie uitgereik is, strenger gemaak. Volgens die nuwe beperkings word huishoudelike waterverbruik tot 50 liter per persoon per dag beperk. Inwoners wat die maandelikse verbruik van 12 kiloliter oorskry staar boetes van R1 000 in die gesig.
Leon Blignault, tegniese bestuurder van die munisipaliteit se siviele ingenieurswese sê dat vanjaar die vyfde agtereenvolgende jaar van droogte is. "Instansies soos byvoorbeeld skole word gevra om minstens 30% tot 40% op hul gemiddelde verbruik te sny. Geen munisipale water mag gebruik word vir enigiets anders as huishoudelike water en drinkwater nie."
Mense wat grondige redes het vir hoër waterverbruik moet `n skriftelike motivering voorlê om hul waterverbruik te regverdig.
Die vlakke van damme wat die dorp van water voorsien is uiters laag en inwoners word versoek om hul volle samewerking te gee ten einde `n krisis af te weer.
Blignault noem dat die dorp wel droogtehulp-ondersteuning van die Wes-Kaapse regering kry, maar dat hulp ook dringend vir Calitzdorp, Zoar en Van Wyksdorp benodig word.
Inwoners word ook gevra om enige lekkasies onmiddelik aan te meld. Nommers wat geskakel kan word is: 066 389 1516 en 083 380 0106.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'