OUDTSHOORN NUUS -N Die vinnige reaksie van inwoners van Oudtshoorn sowel as die munisipaliteit, het daarvoor gesorg dat nege gesinne in informele huise by De Hoop Saterdag water ontvang het. Dit volg nadat die groepie inwoners die Oudtshoorn Courant verlede Donderdagmiddag in kennis gestel het dat hulle reeds drie weke sonder water is.
Met 'n besoek aan die informele nedersetting langs die spoorlyn het inwoners Vrydag verduidelik dat die munisipaliteit sowat 'n jaar gelede 'n watertenk en twee toilette vir hulle opgerig het.
Alhoewel die toilette gereeld leeggemaak word, is die watertenk glo nie gereeld gevul nie en is dit die afgelope drie weke leeg. Teen Vrydagmiddag het Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, gesê daar is nie tenkwaens beskikbaar om water na De Hoop te neem nie en 'n brandweervoertuig kon ook nie gestuur word nie.
Die publiek is toe gevra om houers met water Saterdag by die kantoor van die Oudtshoorn Courant af te laai.
In gesprekke met Julia le Roux en Colan Sylvester, onderskeidelik speaker en burgemeester van Oudtshoorn, is daar egter bevestig dat water wel Saterdag met 'n brandweervoertuig na De Hoop geneem sou word.
Ongeveer 500 liter drinkwater wat deur inwoners en ondernemings geskenk is, is Saterdagmiddag De Hoop toe geneem en die inwoners het bevestig dat die watertenk vroeër die dag ook gevul is.
Die grond waarop die inwoners hulle strukture opgerig het, behoort aan Transnet en is nie deel van die grond naby die kerkgebou, waar erwe reeds vir behuising uitgesit is nie.
Dit blyk dat die informele inwoners nie bewus was van 'n vergadering met die munisipaliteit verlede week waar verskeie kwessies met inwoners van De Hoop en Welbedacht bespreek is nie.
'n Deel van die informele nedersetting naby die De Hoop-kerk waar ongeveer 45 mense in nege opslaanhutte woon.
Op 'n navraag aan die munisipaliteit het Mangqwenqwe gesë dit is 'n kwessie waaroor die stadsraad nog moet besluit.
Lees 'n verwante artikel: De Hoop het water
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'