Update
OUDTSHOORN NUUS - Die polisie in Oudtshoorn is steeds op soek na inligting nadat daar verlede week 'n groot hoeveelheid vuurwapens en ammunisie in die Raubenheimerdam gevind is.
Lede van die Oudtshoorn-polisie, die Attaqua-honde-eenheid, misdaad intellegensie en die polisie-duikspan het verlede week vir twee dae 'n gedeelte van die dam gefynkam en 'n groot hoeveelheid vuurwapens en ammunisie uit die dam geduik.
Volgens sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het 'n munisipale werker ammunisie gedurende 'n besoek aan die dam ontdek.
"Die werker is die volgende dag terug na die dam waar hy nog ammunisie ontdek het. Die polisie is ontbied en die vuurwapens en ammunisie is uit die dam geduik. Daar was ondermeer drie Martini Hendry gewere, een BSA geweer, een antieke haelgeweer, een .303 en en 8 820 rondtes ammunisie van verskeie kalibers."
Majoor generaal Oswald Reddy, die Tuinroete polisiekommisaris, het die toneel besoek en die lede op die toneel geloof vir die goeie werk wat hulle gedoen het.
Volgens Spies gaan die ondersoek voort en word daar verwag dat nog ammunisie moontlik gevind kan word.
"Ons vra dat enigiemand met inligting die polisie moet skakel."
Inligting sal vertroulik hanteer word. Skakel die polisie by 044 203 9000 of Crime Stop by 0860 10111. Inligting kan ook op die MySAPS-toepassing gedeel word.
Genl.maj. Oswald Reddy by die dam saam met ander lede van die Oudtshoorn-polisie. Foto's verskaf
Van die ammunisie wat gevind is.
Vorige artikel: Wapenvonds by Raubenheimerdam
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'