OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Oudtshoorn-polisie, die Attaqua-honde-eenheid, misdaad intelligensie en die polisie-duikspan het gister en vandag 'n groot hoeveelheid vuurwapens en ammunisie uit die Raubenheimerdam geduik.
Volgens sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het 'n munisipale werker ammunisie gedurende 'n besoek aan die dam ontdek.
"Die werker is die volgende dag terug na die dam waar hy nog ammunisie ontdek het. Die polisie is ontbied en die vuurwapens en ammunisie is uit die dam geduik. Daar was ondermeer drie Martini Hendry gewere, een BSA geweer, een antieke haelgeweer, een .303 en en 8820 rondtes ammunisie van verskeie kalibers.
Majoor generaal Oswald Reddy, die Tuinroete polisiekommisaris, het die toneel besoek.
"Hy het die lede op die toneel geloof vir die goeie werk wat hulle gedoen het."
Volgens Spies gaan die ondersoek voort en word daar verwag dat nog ammunisie moontlik gevind kan word.
"Ons vra dat enigiemand met inligting die polisie moet skakel."
Inligting sal vertroulik hanteer word. Skakel die polisie by 044 203 9000 of Crime Stop by 0860 10111. Inligting kan ook op die MySAPS selfoontoepassing gedeel word.
Twee van die wapens wat uitgeduik is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'