Update
DE RUST NUUS - Die strate van De Rust het Maandagmiddag en Dinsdagoggend gedreun met motorfietse toe ongeveer 60 vroue-motorfietsryers wat aan die Women Riders World Relay (WRWR) deelneem het dar oornag het.
Die groep en 'n kameraspan is tans besig met die Suid-Afrikaanse deel van 'n wêreldwye motorfietsaflos, om 'n nuwe Guinness Book wêreldrekord op te stel vir die langste motorfietsaflos deur vroue. Die aflos het verlede jaar in Europa begin.
Daar is tans 56 vroue van Suid-Afrika en 'n aantal uit die buiteland wat die tog deur die land aanpak. Hulle het die aflosstokkie op 2 Januarie in Johannesburg ontvang en oorhandig dit op 9 Januarie in Upington aan ryers uit Namibië, wat dit weer verder neem.
Die "aflosstokkie" is 'n opgerolde lys met die name van al die vroue wat aan die aflos deelneem.
Die stokkie word in 'n klein leerrugsak gehou en word elke dag aan 'n ander ryer gegee om vir die dag te dra.
Die groep het Dinsdagoggend om 07:00 uit De rust vertrek op pad Kaapstad toe waar hulle sou oornag. Volgens een van die ryers wat in haar sestigs is, ry hulle tussen 400 en 450 km per dag, maar hou ongeveer elke 150 km stil om te rus en ook ter wille van kleiner motorfietse wat saamry.
Lees 'n vorige artikel: Wêreld motorfietsaflos was in De Rust
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'