Gallery Video
DE RUST NUUS EN VIDEO - Ongeveer 60 vroue-motorfietsryers en ‘n kameraspan wat tans besig is met die Suid-Afrikaanse deel van ‘n wêreldwye motorfietsaflos, het gisteraand in De Rust oornag.
Die aflos is deel van die Women Riders World Relay (WRWR) wat tans besig is om ‘n wêreldrekord vir die Guiness Book of Records op te stel vir die langste motorfietsaflos deur vroue.
Die aflos het verlede jaar in Spanje begin.
Daar is 56 vroue van Suid-Afrika wat die tog deur die land aanpak. Hulle het die aflosstokkie op 2 Januarie in Johannesburg ontvang en oorhandig dit op 9 Januarie in Upington aan ryers uit Namibië, wat dit weer verder neem.
Die “aflosstokkie” is ‘n opgerolde lys met die name van al die vroue wat aan die aflos deelneem. Die stokkie word in ‘n klein leerrugsak gehou en word elke dag aan ‘n ander ryer gegee om vir die dag te dra.
Die groep het vanoggend om 07:00 uit De rust vertrek op pad Kaapstad toe waar hulle vanaand oornag.
Hulle ry tussen 400 en 450 km per dag, maar hou ongeveer elke 150 km stil om te rus en ook ter wille van kleiner motorfietse wat saamry.
Volgens WRWRSA se Facebookblad is die oudste motorfietsryer wat deelneem ‘n vrou van 68.
Die kameraspan wat hulle vergesel is besig met ‘n dokumentêre program oor die wêreldreis.
Kyk 'n video hieronder:
Hulle ry tussen 400 en 450 km per dag.
Die groep het vanoggend om 07:00 uit De rust vertrek op pad Kaapstad toe waar hulle vanaand oornag.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Karoo nuus'