Update
STILBAAI NUUS - 'n 62-jarige vrou is Maandag tydens 'n plaasaanval buite Stilbaai vermoor. Heila Kilian is noodlottig gewond toe vyf mans die inwoners van 'n huis by Gazania-kwekery aangeval het. Die aanval het net na 22:00 plaasgevind.
Volgens kapt. Malcolm was die eienaar en nog drie mense besig om agter die huis vleis te braai toe die aanval plaasgevind het.
"Die mans, in oranje oorpakke en klapmusse, het op hulle toegesak. Hulle het glo sonder waarskuwing op die slagoffers begin skiet. Kilian is raakgeskiet en is op die toneel dood."
Sover vasgestel kon word, het Kilian by haar suster, Brenda Thomas, in Stilbaai gekuier om na 'n voetoperasie te herstel. Sy sou blykbaar Sondag weer na die Oos-Rand teruggekeer het. Haar man is 'n oudbevelvoerder van die onluste-eenheid naby Springs.
"Twee mans is met toue vasgebind, maar die ander vrou het weggekom en het na die buurplaas gehardloop," het Pojie gesê. Sy het volgens inligting haar seun, die enigste nommer wat sy kon onthou, geskakel.
Die bakkie waarin die mans gevlug het, is later die aand by 'n vulstasie in Heidelberg op kamera opgemerk.
Die huis is geplunder en 'n versameling jagmesse, wapens en 'n groot bedrag kontant is gebuit. Die verdagtes het met die wit Hilux-bakkie van die plaaseienaar gevlug.
"Dit is 'n enkelkajuitbakkie met 'n kappie en registrasienommer CCC 12419. Al vyf is swaar gewapen en die publiek word gemaan om hulle nie te nader nie, maar dadelik die naaste polisiestasie in kennis te stel indien hul opgemerk word," het Pojie gemaan.
Die verdagtes is om 23:14 op kamera by 'n vulstasie in Heidelberg opgemerk en die vemoede bestaan dat hulle vanaf die Kaap afkomstig is omdat hulle in daardie rigting beweeg het.
'n Lykskouing is Woensdag 18 April op Kilian uitgevoer, maar die uitslag was teen druktyd nie bekend nie.
Die afgesperde moordtoneel by Gazania Kwekry buite Stlbaai. Foto: Wilma Adamson
Gerugte het die ronde gedoen dat die polisie twee persone reeds in hegtenis geneem het in verband met die voorval, maar die ondersoekbeampte, speursers. Ludwig Schnetler het gesê dat dit nie waar is nie.
Enigiemand met inligting kan Schnetler by 079 894 1593 of 028 754 6100 skakel.
Lees 'n vorige artikel | Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'