Update
OUDTSHOORN NUUS - "Ek voel baie sleg oor wat ek gedoen het en sal nooit weer so iets doen nie."
So het die 50-jarige Susan Plaatjies van Volmoed in die Oudtshoorn-streekhof aan streeklanddros Retha Pretorius gesê nadat sy onskuldig bevind is op aanklag van moord op haar man, maar skuldig bevind is aan strafbare manslag.
Plaatjies het die pa van hul drie kinders, Kiewiet Plaatjies (45), die aand van 2 Mei 2018 buite hul opslaanhut met 'n mes in die nek gesteek nadat hulle saam gedrink het en hy haar weer aangerand het en haar arm, wat hy 'n vorige keer met 'n plank gebreek het, weer gebreek het.
Volgens haar het haar oorlede man, met wie sy agt jaar getroud was, haar in die verlede verskeie kere aangerand. So het hy haar al met 'n graaf oor haar kop geslaan, met 'n mes in haar rug gesteek en met 'n bloudraad en plank geslaan. Sy het egter nooit sake by die polisie gaan lê nie en maar altyd weggehardloop. Hulle het gereeld saam gedrink, maar sy het die drank sowat 'n jaar gelede gelos en het vir die afgelope vier maande 'n nuwe lewensmaat.
Haar regshulpprokureur, Eugene Roos, het die hof vir 'n opgeskorte vonnis gevra omdat sy 'n lewe van geweld gelei het en nie beplan het om haar man dood te maak nie en nou 'n "ander" lewe lei. Haar man se dood was 'n ongeluk.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het egter vir 'n gedeeltelike opgeskorte vonnis gevra omdat sy aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind is wat hoogty vier in die hof se bedieningsgebied.
"Dit is 'n tragiese sameloop van omstandighede, maar die beskuldigde kon na die polisie gegaan en 'n interdik teen haar man verkry het. 'n Lewe is egter geneem en kinders van 'n pa ontneem," het Vister betoog.
Streeklanddros Retha Pretorius, het met vonnisoplegging gesê dit is duidelik dat die beskuldigde 'n slagoffer van gesinsgeweld was en gereeld beserings opgedoen het. Drie kinders het 'n pa en 'n ma verloor deurdat die kinders deur maatskaplike dienste van hul moeder weggeneem is.
Plaatjies het die wet in eie hande geneem en moet gestraf word al is sy 'n eerste oortreder.
"Die howe moet effektiewe vonnisse oplê wat nie die openbare vrede en orde versteur nie en ook openbare vertroue in die howe versterk," het die landdros gesê.
Sy het ook haar kommer uitgespreek oor gesinsgeweld wat 'n groot probleem in Suid-Afrika is. "Daar gaan nie 'n dag verby dat 'n vrou nie geslaan of verkrag word nie."
Plaatjies is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is en ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Die landdros het na die vonnis aan Plaatjies verduidelik dat die vonnis van vyf jaar vir haar gebêre word en in werking gestel sal word indien sy weer aan 'n soortgelyke misdryf skuldig bevind word.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'